TUINROETE | KAROO NUUS - Bekende Suid-Afrikaanse akteur, Frank Opperman, besoek Mosselbaai op Vrydag, 12 Augustus op uitnodiging van die Hervormde Kerk se Mosselbaai-gemeente met 'n vertoning van sy produksie Steeds Donkie.
Steeds Donkie is die logiese opvolg van Frank Opperman se trefferproduksie Donkie. Meneer Swart, beter bekend as “Donkie” is die skoolhoof van Hoërskool Hans Oosthuizen.
Met sy goeie bedoelings ten spyt is hy reeds effe suf geslaan en gebombardeer. Tydens hierdie Maandagoggend se saalopening het hy boonop etlike nuwe uitdagings: Die leerders se akademiese prestasies het geweldig agteruit gegaan tydens die Covid-pandemie, onderwysers se moed lê laag in hulle skoene en die beheerliggaam is geensins tevrede met sy hantering van Black Lives Matter nie. Ten minste is hordes eksemplare van die skool se 80-jarige herdenkingsboek darem gedruk.
Frank Opperman en Dana Snyman het met Donkie ‘n karakter geskep wat met die eerste effe onbeholpe woord reeds diep in die hart kruip. Met soveel humor, fyn waarneming, subtiele kommentaar en absolute deernis word ‘n storie vertel waarin ieder en elk homself sal verkneukel.
Die vertoning vind plaas op Vrydag, 12 Augustus in die Mosselbaai-stadsaal.
Dit begin om 19:00 en die koste beloop R150 per persoon. Kaartjies is beskikbaar by Mosskem Apteek in Hartenbos, of by Frederick (083 709 3628). Daar sal ook kaartjies by die deur beskikbaar wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'