'n Volgestopte program in die ouditorium met talentvolle plaaslike talent wat mekaar vinnig genoeg afgewissel het om nie vervelig te raak nie en seremoniemeester Henk Lourens wat die gehoor laat skater het met sy kwinkslae en grappies, is iets wat die gehoor vir 'n lang tyd sal onthou.
Die konsert is deur Huis Wallace Anderson aangebied en is gepas met trompetspel deur Arnold, Marco, Ryno en Anrico met Ama-zing Grace geopen. Onder die gehoor wat goed verteenwoordig was, was die uitvoe-rende burgemeester, rdl. Emor Nel en haar man, Dolf.
Toekas se komiese aanbieding van Trein na Pretoria en Jan asseblief tog squeeze my, het die gehoor behoorlik laat skater, maar hulle het bietjie later ook 'n effe ernstiger sy getoon met Lily Marlene, kompleet in die drag van daardie tyd. Die immergewilde Melodika was soos gewoonlik 'n treffer en ander instrumentele optredes was deur Jannes Bosman en Domanico Olivier met kitare, asook Arina Kruger met klarinet. Marlene Potgieter het 'n kort eenvrou-vertoning aangebied wat weereens die lagspiere geprikkel het, terwyl Lesleigh-Ann Weber toeskouers met haar balletpassies vergas het.
Joanne de Waal, plaaslike onderwyseres by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr het van haar eie liedjies wat sy geskryf en waarvan een van die liedjies ook 'n ATKV-toekenning verwerf het, gesing. Sy het al twee CD's op die rakke en 'n derde is reeds in die pyplyn.
Laaste, maar beslis nie die minste nie, is die baie talentvolle Aletta Sutherland wat haar slag met die klavier (begeleiding vir klarinet) en die konsertina gewys het. Dié lewenslus-tige jong dame het veral die ouer garde in vervoering gehad met haar weergawe van die Kalfie Wals en daarna 'n op-en-wakker settees wat selfs die jonges se voete vir 'n dansie laat jeuk het. Die organiseerders van die konsert bedank al hul borge, kunstenaars en die gemeenskap vir hul ondersteuning.

Die 'Toekas' op hul stukke met hul weergawe van Lily Marlene.
ARTIKEL EN FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS