SUID-KAAP NUUS - Petronel Baard, bekend as die Lang Vrou in musiekkringe, het onlangs 'n nuwe liedjie, Gelukwaarts uitgebring. Wat die lied uniek maak is hoe sy op die naam van die lied afgekom het en dat sy dit saam met die Suid-Kaap-kinderkoor opgeneem het op die kruin van die berg langs die Robinson-pas tussen Hartenbos en Oudtshoorn.
Petronel en kollega Alta Scott was op toer met die, 'n Blom in Elke Vrou-projek wat sy by Loeriesfontein sou sing, toe hulle by 'n plaas met die naam Gelukwaarts naby Piketberg verby gery het.
Die naam het dadelik aanklank by hulle gevind en hulle het vir mekaar gesê hierdie moet 'n liedjie word.
Petronel vertel dat die skryf 'n langsame proses was, omdat geluk maar oor berge en dale gaan en nie net maklik gebeur nie. Sy het 'n paar maande daaraan gewerk en ook digkuns daarin verwerk.
Sy het vir Johan Engelbrecht gekontak, wat die violis is van, 'n Blom in Elke Vrou-projek en baie werk doen met strykensembles en kore wat hy bymekaar bring.
Petronel Baard sing op die kruin van die Robinson-pas met die opname van haar lied 'Gelukwaarts'.
Ons het toe vir Jan-Erik Swart van die Suid-Kaap-kinderkoor genader en die lied is begin September by Glenwood House deur die koor en strykensemble opgeneem. Ons het die volgende dag die video-opname met die koor op die kruin van die berg gedoen.
Petronel vertel: "Dit was 'n wonderlike ervaring. Die kinders het soos blomme in die veld gelyk. Jan-Erik het van ver af gedirigeer en ons het gesing en opgeneem. Dit was 'n besonderse projek en video. En die woorde is so besonders 'oor rûens gesaai, lê wolke se draai, skaar voëls hemels gewaai wat vlieg - Gelukwaarts'."
Die lied en video is op Erfenisdag vrygestel en is baie goed ontvang deur radiostasies en stromings-dienste. Petronel vertel dat dié kooropname van haar liedjie die begin van groter samewerking is met die Suid-Kaap-kinderkoor.
Hulle beplan 'n vertoning op 21 April 2023 ten bate van Huis Elsjé, 'n tehuis vir mense met dementia. Petronel Baard se nuwe lied Sterredak Heelal word môre, 18 November bekend gestel met die video-vrystelling op 3 Desember.
Petronel en haar Blom in Elke Vrou-orkes tree Saterdag 19 November op by die Salty River Beerhouse in Klein-Brakrivier.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'