“By ons nuwe teksmark kan skrywers die verhoogmatigheid van nuwe verhoogtekste toets en met terugvoer van rolspelers in die bedryf, voltooi of afrond,” vertel Rhodé Snyman (uitvoerende hoof: Kunste Onbeperk). Hierdie inisiatief word ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATI) en die Baxter Teatersentrum.
Volgens Hugo Theart (kreatiewe hoof: Kunste Onbeperk) het skrywers tot Maandag 12 September om voorstelle elektronies in te dien. Dit word dan tot ’n leesteaterprogram verwerk, wat op 31 Oktober en 1 November by die Baxter Teatersentrum in Kaapstad aangebied word.
Tekste, in alle Suid-Afrikaanse tale wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie kan ingeskryf word, solank die skrywer inwillig dat dit in Afrikaans vertaal mag word.