RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal amateur toneel- en musiekvereniging (Ratem) bied jaarliks in die Hessequa-streek 'n eisteddfod in die dorp aan.
Vanjaar vind die eisteddfod van 29 Augustus tot 1 September in verskeie lokale plaas.
Skole van so ver as Ashton tot Mosselbaai skryf laer- en hoërskoolleerders in om deel te neem in verskeie kategorieë soos drama, musiek, sang, instrumente, kuns en skryfkuns. Dans is van vanjaar af bygevoeg.
Die formidabele Niël Rademan, 'n bekende kunstenaar, vermaaklikheidster, pianis en sanger van formaat wat al diep spore in die kunste gestap het, is aangestel as beskermheer van die Ratem-eisteddfod vir 2022. Hy is 'n boorling van Hessequa.
Marianne Streicher, 'n verteenwoordiger van die Ratem-eisteddfod, het onlangs 'n geraamde kunswerk aan Niël oorhandig vir sy opkomende rol as beskermheer van die Ratem-eisteddfod. Dis geskenk deur Nieu Script van Riversdal.
Professionele beoordelaars verseker dat 'n hoë standaard in die onderskeie afdelings gehandhaaf word.
Ratem se mikpunt is die opheffing van die kunste, blootstelling vir plattelandse leerders en 'n samesyn van vreugde in en deur die kunste.
Besoek hul Facebook-blad by Ratem Riversdal en/of Instagram by Ratem 100, of skakel 082 441 3026 vir enige verdere navrae.
Niël is ook die hoof van die Hessequa Harmonie Kunstefees wat vanjaar van 20 tot 24 September vir die vyfde maal in Heidelberg aangebied word.
Vir meer inligting oor dié fees stuur 'n e-pos aan niel.rademan@gmail.com.
Die bekende kunstenaar en vermaaklikheidster Niël Rademan, is aangestel as beskermheer van die Riversdalse Amateur Toneel- en Musiekvereniging (Ratem) se Eisteddfod vir 2022. Marianne Streicher (links), 'n verteenwoordiger van Ratem), het 'n spesiale trofee aan Niël oorhandig. Regs staan Karen Breytenbach (Ratem).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'