"Ek is dankbaar vir die inwoners wat ons wel ondersteun het om van die Kers Straatmark 'n sukses te maak. Dit is maar die tweede jaar wat ons dit aanbied en is dit 'n groeiproses waarin ons baie leer uit die foute wat ons maak, maar ek hoop werklik dat die mark met elke jaar groter en beter sal word," het Annelie Bester, hooforganiseerder gesê.
Die kunstenaars wat op vanjaar se vermaakprogram was, is die plaaslike sangeresse Joanne de Waal en Natasha Kellies wat beide geen bekendstelling nodig het nie, die St Andrews Brigade wat vir pragtige gewyde en Kersliedere gesorg het en 'n kleutergroepie van Bollie Konyn. 'n Springkasteel het gesorg dat kleuters besig is terwyl ma en pa ongehinderd tussen die stalletjies kan rondkuier of 'n besoek aan die biertuin bring. Bester bedank al hierdie kunstenaars, stalletjie eienaars, Harry Stroebel en Chris van Schalkwyk wat vir die klank gesorg het, asook Isabel Jackson en Hansie Saayman vir hulle hulp.
Die uitvoerende burgemeester van Hessequa munisipaliteit, rdl. Emor Nel, het in haar toespraak die organiseerders gelukgewens met die inisiatief om die Kersmark op so 'n wyse te open. "Dit is hoe ons besighede en gemeenskap betrokke moet raak om aksie en atmosfeer in ons omgewing in te bring. Die munisipaliteit het sy deel om te doen om die ekonomie te stimuleer, maar die privaatsektor het die kundigheid om dit te doen en saam kan ons 'n sukses daarvan maak."
Nel het bygevoeg dat dit noodsaaklik is dat elke inwoner van elke dorp in die streek aan boord moet kom om te leer om plaaslik te ondersteun. "Hierdie fees is 'n geleentheid vir elke kultuur om bymekaar te kom, elkeen met sy eie stalletjie en so verhoudinge te bou met 'n gemeenskaplike doel."
Volgens Nel is daar so baie wat mooi en waardevol in ons omgewing en elkeen van ons se lewens is.
Sy het die organiseerders sterkte toegewens met die hernude poging om die Riversdal Kers Straatfees nuwe lewe te gee en glo dat dit 'n suksesresep is met die inkoop van plaaslike kunstenaars, plaaslike entrepreneurs en handgemaakte produkte.

Rdl. Emor Nel staan by die St Andrews Brigade. Inlaste van links is besoekers by die biertent; Natasha Kellie sing haar hart uit en so ook Joanne de Waal terwyl rdl. Nel luister.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'