Danie Joubert het in sy voorsittersverslag sy dank uitgespreek aan Chris Heese, wat vanaf die stigting van die vereniging voorsitter was en dit uitgebou het tot 'n onmisbare kulturele aanwins vir die dorp. Die vereniging het klein begin, maar spog tans met meer as 100 entoesiastiese lede.
Die SBMV het hierdie jaar uitstaande konserte aangebied, onder andere Capella Concertante uit Oostenryk, die Suid-Kaap kinderkoor, Amiel en Avigail Bushakevitz, Zorada Temming en Elna van der Merwe (Die twee Blondes), die Cape Town Male Voice Choir, en Duo Paganini uit Noorweë. Almal is dit eens dat dit 'n besondere puik program met uitmuntende kunstenaars was.
Die Musiekvereniging het groot planne vir 2013. Megan-Geoffrey Prins, die begaafde jong pianis wat afkomstig is uit Riversdal en tans groot opgang maak in Europa, gaan weer hier optree.
Die Stellenbosch Universiteitskoor, Conspirito en die Zapcek kitaar duo is ook in die pyplyn. Magda Niemand word bedank wat so gereeld deur haar besigheid help met kaartjies, asook die Stilbaai gemeenskap vir hul onmisbare ondersteuning.

Van links is Nugget van Noordwyk, Serena Nagel, Euchi Yazbek, Danie Joubert (voorsitter), Bettie Niehaus, Mike en Louise Steytler.