STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Vroue Landbouvereniging (VLV) het Vrydag 11 September 'n besondere mylpaal gevier met die viering van sy 70ste verjaardag.
Die vereniging is op 15 September 1956 gestig, net 'n jaar nadat Stilbaai die brug oor die Goukourivier gekry het. Sewe dekades later is die VLV steeds 'n aktiewe deel van die gemeenskap en gaan die vereniging van krag tot krag.
Die organisasie fokus op die persoonlike groei en opheffing van vroue, gemeenskapsdiens en die bevordering van 'n gesonde gesinslewe. Belangrike lewensaspekte word deur middel van maandelikse praatjies en demonstrasies oor onder meer kuns en handwerk, gesondheid, leefstyl en landbou aangespreek.
Tydens die verjaardagvieringe het Karen Loots van Die Lesery voorgelees uit Maretha Maartens se boek Motte en Magrietjies. Met 'n mengsel van humor en erns stel Maartens die moderne vrou voor 'n keuse: om soos die vrolike, lig dansende, geel magriet te wees, of soos die vaal mot wat reguit die kersvlam binne vlieg.
Om die oggend verder op te vrolik het Pauline Matthee 'n pragtige lied met haar eie klavierbegeleiding gesing.
Loots het daarna 'n onderhoud met Rensia Thompson en Ebenize Smalberger gevoer oor die VLV, sy geskiedenis en dit wat die vereniging deur die jare vir sy lede en die gemeenskap beteken het.
Die oggend het ook sy deel van verrassings gehad, met gereelde gelukstrekkings wat vir heelwat opwinding gesorg het. Nadat almal teenwoordig saam die VLV-lied gesing het, is die feestelike oggend met 'n heerlike middagete afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’