ALBERTINIA NUUS - Adertara Kitchen Trading het Saterdag 22 Augustus, in samewerking met die Albertinia-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), 'n spesiale Vrouedag in Albertinia aangebied.
Die tema van die oggend was, Die vergete vrou, met die fokus op vroue wat dikwels in die daaglikse gejaag van die lewe hulself en hul eie waarde vergeet.
Marilyn Fillies het haar huis en tuin pragtig versier om die sowat 40 vroue wat die geleentheid bygewoon het, 'n oggend van vreugde en ontspanning te bied - 'n geleentheid om vir 'n rukkie van die pyn en wanhoop daar buite te vergeet.
"Dikwels vergeet ons vroue onsself in die daaglikse gejaag om kop bo water te hou en vergeet ons die goudwaarde wat ons het," het Fillies gesê.
Volgens haar is daar baie vroue in die gemeenskap wat swaar kry en gebroke is, maar steeds glo dat hulle ook verdien om spesiaal behandel en waardeer te word.
"Daar is baie stukkende vroue tussen ons wat glo hulle verdien 'n dag soos hierdie en dat ons dit meermale moet doen," het sy gesê.
Fillies is reeds geruime tyd onverpoosd betrokke by die opheffing en beskerming van vroue en kinders in Albertinia. Die Vrouedag was volgens haar nog een van die vele liefdesdade waarmee sy 'n verskil in die gemeenskap probeer maak.
Die oggend het vroue die geleentheid gebied om weg te breek van hul alledaagse bekommernisse en weer herinner te word aan hul waarde en belangrikheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’