STILBAAI NUUS - Die gewilde basaarpoeding, koeke en vleis het Saterdagoggend behoorlik gevlieg toe kopers vroeg reeds by die Stilbaai-gemeenskapsaal opgedaag het om seker te maak hulle loop nie met leë hande huis toe nie.
Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum se jaarlikse basaar, wat op Saterdag 4 Julie aangebied is, het weer eens bewys waarom dit een van Stilbaai se gewildste gemeenskapsgeleenthede is. Van vroegoggend af was die saal 'n miernes van bedrywighede, met besoekers wat deur die talle stalletjies beweeg en hul mandjies gevul het met vargebakte koeke, terte, beskuit, lekkernye, tuisgemaakte produkte en smaaklike vleisgeregte.
Die gesellige atmosfeer was oral tasbaar. By die tafels in die saal was daar feitlik deurentyd nie plek vir 'n muis nie, terwyl oud en jonk die geleentheid gebruik het om saam te kuier, koffie te geniet en die gemeenskapsgees te vier.
Die sukses van die basaar was die resultaat van maande se deeglike beplanning, voorbereiding en die toewyding van 'n groot groep vrywilligers. Volgens die organiseerders het die dag selfs hul stoutste verwagtinge oortref.
Die jaarlikse basaar is 'n belangrike fondsinsamelingsgeleentheid vir Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum, wat sorg en ondersteuning aan ouer persone in die gemeenskap bied. Die oorweldigende ondersteuning van inwoners, borge, donateurs en vrywilligers het weereens getoon hoe sterk die gemeenskap in Stilbaai is.
Juis hierdie gees van samewerking en omgee maak Stilbaai besonders. Wanneer 'n gemeenskap saamstaan om die lewe van sy ouer inwoners te verbeter, word meer as net fondse ingesamel - dit versterk ook die waardes van medemenslikheid en gemeenskapsbetrokkenheid waarvoor die dorp bekend is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’