STILBAAI NUUS - Om Erfenisdag op Donderdag 24 September te vier, het die Blombos-museum van Argeologie 'n interessante program saamgestel wat besoekers die geleentheid bied om meer oor die bewaring van die verlede te leer en terselfdertyd herinneringe uit Stilbaai se geskiedenis te herleef.
Die program skop om 09:30 af met 'n praatjie deur landskapsargitek Helene Potgieter, getiteld "Die belang van die bewaring van ons historiese geboue."
Historiese geboue en landmerke regoor die land word toenemend deur agteruitgang en verval bedreig. Indien dié verlies gelate aanvaar word, kan toekomstige geslagte uiteindelik slegs op vergeelde foto's staatmaak om 'n beeld van hierdie belangrike deel van ons erfenis te kry.
Potgieter se praatjie by die museum by Palinggat sal perspektief bied op die belangrikheid van die bewaring van historiese geboue en waarom dit noodsaaklik is om ons erfenis vir die toekoms te beskerm.
Om 11:30 skuif die fokus na 'n besondere stukkie plaaslike geskiedenis wanneer die geliefde Stilbaai-kunstenaar Maxi du Plooy en twee van die vier leerders wat in 1996 saam met haar die muurskildery in die Skoolkamer geskilder het, herinneringe aan die proses deel.
Dit bied 'n unieke geleentheid om drie dekades later terug te kyk na die ontstaan van die bekende muurskildery en die mense wat destyds deel daarvan was.
Besoekers sal ook die geleentheid hê om by Oh My Gluten-Free 'n heerlike stukkie koek en koffie te geniet. Oh My Gluten-Free het Donderdagaand 17 September tydens die AHi Wes-Kaap se Gala-toekenningsgeleentheid by Rijké die titel, Beginner Besigheid van die Jaar, ontvang.
Met 'n kombinasie van geskiedenis, erfenis, persoonlike herinneringe en iets lekkers om te geniet, beloof die Blombos-museum se Erfenisdagprogram 'n oggend wat die moeite werd is om by te woon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’