Vanjaar het ek vir die eerste keer aan die Knysna halfmarathon deelgeneem.
Drawwers moes die dag voor die wedloop registreer en dit het ons dus onkant gevang toe ons die oggend van die wedloop om 05:00 reeds in Knysna in druk verkeer vasgevang is. Die laaste taxi vertrek vanaf Vigilancerylaan om 06:00. Die taxis neem drawwers na die wegspringpunt, 'n ent van die Glebedam, bo in die Knysna bos.
Draf
Sommige drawwers, wat in groepe na Vigilancerylaan gery het, was angsbevange om laat te kom en het uit motors gestroom en padlangs in die rigting van Vigilancerylaan gedraf. Vóór die wedloop. Dit was koud, reënerig en pikdonker. "Dit moet darm regtig 'n lekker wedloop wees," het my vriendin droogweg opgemerk terwyl ons in die verkeer sit en drawwers verby ons voertuig hardloop.
Gelukkig was ons betyds en die gees het hoog geloop toe die taxidrywer Whitney Houston se I Have Nothing kliphard speel. Daar gekom het ons tussen die ander duisende drawwers voor die wegspring gebondel. Draf is 'n snaakse ding. Dit leer jou meer van jouself en dit maak 'n mens nederig. Daar is nie 'n snobistiese element aan draf nie.
Jy het net jou tekkies nodig en enigeen, ryk of arm kan dit doen. Terwyl ek die 21.1km aanpak en drawwers van verskillende lengtes, gewig, ras en ouderdom saam met my kilometer vir kilometer afhandel, herinner dit my aan die lewenspad. Ons neem almal daaraan deel.
Van ons is fikser as ander en van ons glimlag meer. Van ons is vet, van ons is maer. Maar dit maak nie saak nie, want ons is almal op pad na dieselfde eindstreep. Ons het opgedaag en ons is híér. Soms draf jy alleen maar meestal is daar iemand langs jou.
Stap ons hygend
Dikwels is dit 'n vreemdeling wat jou op jou voete help wanneer jy val. Die opdraendes stap ons hygend uit, die afdraendes benut ons, veral as die wind jou ook boonop van agter aanhelp. Ons stop by die waterpunte en wanneer ons regtig moeg raak, rus ons. Maar meer as enigiets het dit my herinner dat ons die mense en die natuur wat op ons lewenspad verby kom, moet probeer raaksien. Al is jy soms moeg en moedeloos.
Kyk vorentoe want daar is die mooi uitsig oor die dam. Haal diep asem, want jy kan.
Kyk op. Naby die eindstreep wag 'n reënboog. Sien die vriendelike ondersteuners raak wat langs die pad staan. Neem 'n helpende hand na 'n gly en val. Maar die belangrikste is staan weer op en gee jou beste, tree vir tree.
En probeer tog om die wedloop te geniet, al gaan dit soms swaar, al is daar 'n paar pyne en skete. Dit gaan ook verby.