In Slot van die dag, Gedagtes deur Karel Schoeman, skryf hy die vernaamste tema onder mede-inwoners van 'n aftreeoord is gewoonlik blote dankbaarheid vir alles wat hulle nog hét. Goed soos praktiese hulp en bystand, voldoende finansiële middele en behuising.
Maar, nie almal word 'n lang lewe soos dit gegun nie.
Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Jean du Plessis, oftewel Jan Bloukaas, is vyf-en-twintig jaar oud en veg reeds twee jaar teen breinstamkanker.
Dokters het hom ingelig dat hulle weens die ligging van die gewas nie sal kan opereer nie en ondanks intensiewe behandeling, het hy onlangs op sosiale media bekend gemaak dat die kanker weer groei.
Hy het vir sy aanhangers gesê dat toer buite die kwessie is, maar dat hy daarna sal kyk om 'n "totsiens album" te maak.
Dit het my laat dink aan totsiens sê.
Hoe groet jy wanneer jy weet die son wat sopas opgekom het, jou laaste sonsopkoms was?
Gaan jy stotter in jou soeke na die regte woorde? Of gaan jou lippe sinne vorm sonder om te sukkel?
Druk jy iemand stywer vas wanneer jy weet dit is die laaste keer? Of laat gaan jy net?
En hoe groet jy iemand wat nie noodwendig nou doodgaan nie, maar net nie meer in jou lewe is nie? Is dit nie dalk 'n swaarder afskeid nie?
Nou die oggend het ek oudergewoonte by Die Punt op Mosselbaai gesit om die son te sien opkom.
Ek is nooit alleen daar nie en elke oggend drentel 'n klomp siele saam met my rond. Almal in afwagting op die eerste sonstrale vir die dag.
Soms neem ek 'n foto, soos baie van die mense, wat ook daar in hulle voertuie sit. Ons almal kyk in die rigting van die berge oor die see, want dit is waar die son oor Mosselbaai opkom.
Ek het altyd gedink dit is net ouderdom wat 'n mens minder voortvarend maak. Maar, wanneer iets gebeur soos wat met Jean du Plessis gebeur, reken ek jy kyk met nuwe oë na elke sonsopkoms en sekerlik veral na wanneer die son sak. Plaaslik weet ek ook van baie mense, oud-en-jonk, wat met hulle eie uitdagings sit. Niemand van ons word dit gespaar nie.
Die Suid-Afrikaanse skrywer Izak Wilhelmus van der Merwe, eerder bekend as Boerneef, dig:
Die najaar is nou op sy herfsste
die bessieboom se rooi is hartvanrooi
hoe het my jeug se oë dan gekyk
die kleur was toe mos nie so brandendrooi
is dit die gawe van die ouderdom
om dieper in die kleuregloed te kyk
aanhoudender na ondergaande son
Dit het my laat dink dat ek graag die gawe wil hê, en dat ons almal eintlik daarna kan strewe, ouderdom tenspyt, om elke oggend die kleuregloed van die son wat oor Mosselbaai opkom raak te sien.
Régtig raak te sien, en voor dit sak, diep daarin te kyk.