Indien jy in die nabye toekoms tyd op hande het, woon vir 'n slag een van Mosselbaai-munisipaliteit se raadsvergaderings by. Lede van die publiek mag daar wees en besoekers sit in die gallery.
Op Donderdag, 31 Augustus, is die raadsvergadering deur 'n geloofsleier met 'n kort prediking en gebed geopen. Sy het 'n mooi boodskap gelewer en vir 'n vlietende oomblik het ek my verbeel daar heers 'n mate van samehorigheid. Terugskouend is dit egter 'n naïewe gedagte.
Hoewel ek graag van mening wil wees dat die besluitnemers, wat in daardie raadsaal sit, ons as inwoners se beste belang op die hart dra, bly dit in realiteit 'n politieke speelveld met politieke partye.
Nadat formaliteite afgehandel is en verskonings vir die wat afwesig was gemaak is, het die vergadering begin.
Die wegspring daarvan het gevoel soos wanneer jy op 'n plaaslike vlug op George se lughawe sit terwyl die vliegtuigenjin opwarm. Almal is gereed vir die opstyg, in afwagting op die vlug, maar dié vliegtuig wou net nie van die aanloopbaan opstyg nie.
Die speaker is van die begin af gereeld deur een van die opposisiepartye onderbreek. Dieselfde mense het heeltyd gepraat en dit was soos om na 'n tenniswedstryd te kyk.
Dit was heel komieklik toe daar oor 'n sekere punt gestem moes word en toe die stemmery amper verby is 'n raadslid kla dat sekere raadslede gestem het, sonder om hulself eers te identifiseer. Daar begin die hele proses toe weer van vooraf. Een raadslid het droogweg opgemerk dat hy mos daar sit in lewende lywe en nie iemand anders is as hyself nie.
Een partyleier het gekla oor sekere dele van sy monoloog blykbaar van 'n YouTube-kanaal gevee is en dat die volle beeldmateriaal van die raadsvergaderings nie op die internet geplaas word nie. Of dit waar is, weet ek nie, maar wie ookal daarna wil kyk sal 'n eindelose hoeveelheid data beskikbaar moet hê, want ek belowe jou, dit kan lank raak.
Inwoners van dié dorp verwag goeie dienslewering. En of die opposisiepartye nou daarvan hou of nie, ons staan tans bekend as een van die beste munisipaliteite in die land. Ek wonder nogal hoe dinge sal gaan wanneer die wat so kla self die stuur oorvat?
Ek hoop die raadslede wat in Mosselbaai se raadsaal sit onthou hoekom hulle daar is – om die gemeenskap se belange op die hart te dra.
Teen 11:30 het ek die raadsvergadering verlaat. Die middaguur het gewink en dit was steeds die een na die ander onderbreking gepaardgaande met gereelde sarkastiese opmerkings. Amper soos 'n onrustige graad 7-klas.
Ek hoop werklik wanneer dit by Mosselbaai se belange kom daar tog 'n mate van samehorigheid sal wees en die vliegtuig van die aanloopbaan sal opstyg.