Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Koue en reën kon nie die geesdrif van die wynmakers demp wat hul gereed gemaak het om aan die 19de Reef SA Vintners Surf Classic op Vrydag 10 Augustus deel te neem nie.
Hoewel die verrigtinge reeds om 07:30 by Jongensfontein sou begin, het die onstuimige see én dolfyne sake effens in die wiele gery. Volgens een van die organiseerders, Sebastian Beaumont, was die veiligheid van die branderplankryers hul eerste prioriteit. "Die deelnemers is almal wynmakers en nie almal kry die kans om gereeld te oefen nie, daarom moet ons ekstra versigtig wees," het hy gesê. Dit het omstreeks 09:30 na Stilbaai-punt digby die hawe verskuif.
Sowat 60 wynmakers en wynbemarkers het deelgeneem in een van drie hoofafdelings, naamlik junior, senior en ballies (veterane). Hierdie unieke gebeurtenis het in 2000 begin met 'n groep van ongeveer 12 wynmakers van die Wes-Kaap wat lief vir branderplankry was en nie van gholf gehou het nie. Dit was tradisie vir wynmakers om jaarliks vir 'n potjie gholf uitgenooi te word deur hul verskaffers en hulle het besluit om eerder branderplank te ry.
Die eerste byeenkoms was by Onrus, waarna besluit is om dit na Stilbaai of Jongensfontein te verskuif en wat reeds vir die afgelope 10 jaar hier plaasvind. Dit vind op 'n Vrydag in Augustus plaas.
Die Suid-Kaap se plaaslike wynmaker Abraham de Klerk van Baleia Wines op Riversdal, het ook vanjaar weer die golwe getrotseer. Die reënerige toestande het deur die dag verbeter en die kompetisie en gesellige saamkuier op die strand is in heerlike sonskynweer beëindig.
Volgens Beaumont is dit 'n lekker familiesaamtrek en word die dag afgesluit, waar mededingers en hul gesinne bymekaarkom vir die prysuitdeling.
Kyk 'n video hieronder:
"Baie dankie aan al ons borge van die dag. A huge thanks to all the sponsors of the event especially RR Technologies and Reef, wat die dag so spesiaal gemaak het, asook die lede van Stillbaai United Church wat die kos voorsien het en Stables wat die prysuitdeling aangebied het. En natuurlik al die plaaslike branderplankryers wat ons toegelaat het om die kompetisie op hul gebied aan te bied," het Beaumont gesê.
'n Bedrag van R5 280 is deur die deelnemers geskenk om die fasiliteite in stand te hou en te verbeter.
Plaaslike wynmaker Abraham de Klerk (tweede van links) gesels met medewynmakers van die provinsie. Foto's: Wilma Adamson
Wenners
- Dames: 1. Trizaan Barnard; 2. Sarah Harvard; 3. Lucinda Heyns; 4. Nadia Barnard.
- Juniors: 1. Faan Rabie; 2. Jan Solms; 3. Heinrich van der Walt; 4. Christo le Riche.
- Seniors: 1. Pieter Walser; 2. Gunter Schultz; 3. Francois Hanekom; 4. JT van der Westhuizen.
- Ballies 1. Bevan Johnson; 2. Miles Mossop; 3. Sebastian Beaumont; 4. JP Rossouw.
Lees 'n vorige artikel: Wynmakers skenk ruim by kompetisie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'