So het hulle reeds meermale vanaf Preekstoel tot in Stilbaai gery en was die aanvanklike plan om vanaf Stilbaai tot in Jongensfontein te ry, maar het die twee op Witsand besluit omdat die afstand vanaf Stilbaai tot in Jongensfontein slegs 9km windaf is en Witsand 'n groter uitdaging sou wees, aangesien dit sowat 56km soos die kraai vlieg van Stilbaai af is. Wat dit egter meer gevaarlik maak, is dat die eerste 17km uit kuslyn met net rotse bestaan.
Dus, indien daar 'n probleem sou wees sou dit in 'n erge een ontaard, maar dit het die twee nie afgeskrik nie. Volgens Timo is die roete na die rotse relatief veilig, maar omdat daardie gedeelte van die kus baie groot branders optel is die seestrome redelik sterk en sou hulle baie seker moes wees van baie faktore, waaronder windsterkte.
Die windtoestande moes redelik spesifiek wees, Suid-oos tussen 22 tot 27 knope, beide by Stilbaai en Witsand en ten minste oor 'n periode van twee tot drie dae met geen reën. Die toestande gebeur nou nie juis elke week in die geweste nie, maar het die twee windryers gehoop en tot hul groot verbasing voorspel die windguru die toestande is reg en dat Donderdag, 1 November perfek sou wees vir so 'n uitdaging.
Regte toerusting:
Vir die tipe uitdaging het mens die regte toerusting nodig. Timo het 'n 8sqm Cabrinha Switchblade en Casper 'n 8sqm RDD vlieër gebruik. Volgens Timo gebruik mens 'n groter vlieër hoe swakker die wind is en wissel hulle ook van grootte, van 4sqm tot 16sqm terwyl 8m vlieërs ideaal is vir wind van 18 tot 28 knope vir 'n persoon van ongeveer 75kg. Casper gebruik 'n branderplank met straps en Timo 'n gewone twintip wat albei kante toe kan ry.
Van Stilbaai tot in Witsand:
Met hul finale voorbereidings getref was die twee reg vir die uitdaging, Casper pak 'n appel, piesang en 'n noodfakkel in en Timo 'n waterdigte selfoon wat hy in sy waterpak se mou sit. Timo en Casper het Donderdag teen 12:30 hul vlieërplanke in die water gesit nadat die NSRI in Stilbaai asook Witsand in kennis gestel is van hul voornemens en dat hul hoop om teen 15:30 in Witsand te wees.
Bosbokduin en Jongensfontein is vinnig bereik terwyl Timo se pa padlangs, as bystand, ondersteuning gegee het. Volgens Timo was die golwe baie groot by Jongensfontein en hoewel hul lekker kon branderry was hul effe skrikkerig. Na Jongensfontein was die volgende baken Withuis punt, ook met groot branders en 'n rots wat so 100m aan die anderkant van die punt uitsteek. Hoewel hulle bewus was van die rots het hulle baie naby daaraan verby beweeg.
Timo noem dat die kuslyn tussen Bosbokduin en die Withuis baie mooi is, maar baie rof met groot kranse en grotte. Nadat hulle Blombos bereik het, het hulle bietjie ontspan met die wete dat hulle veilig verby die rotse is. Langs die Blombos kus het hulle 'n paar dolfyne teëgekom wat in die water gespeel het en was die twee vlieërplankryers ook verbaas om te sien hoeveel huise langs die kuslyn voorkom. Met aankoms by Puntjie het Timo sy pa gebel, wat genoem het hy wag vir hulle by die restaurant by die Witsand strand.
Vanaf Puntjie het die water begin bruin word aangesien die reën beide die Duivenhoksrivier by Puntjie en die Breederivier laat afkom het. Volgens Timo het hulle drie walvisse gesien wat nogal 'n skrikkerige belewenis so naby aan die grotes was. Volgens hom het die wind sterker geword hoe nader hulle aan Witsand gekom het, so 35 tot 40 knope met die branders wat ook heelwat groter geraak het en die water byna swart van kleur.
Krag van die natuur oorweldigend:
Timo verduidelik dat mens werklik klein voel in so 'n situasie en dat die krag van die natuur mens oorweldig. By Witsand aangekom kon hulle net hul kombi sien in die parkeerarea, maar was dit verder onmoontlik om die kuslyn uit te ken as gevolg van al die skuim wat deur die branders veroorsaak is. Na 76km ter see het die twee bewys dat met deurstettingsvermoë en wilskrag enigiets moontlik is.
Die naaste wat hulle aan die kus was, was so 30 meter en die verste ongeveer 2km. Dit is ook die eerste keer dat so 'n poging aangewend is. Timo sluit af deur te noem, "mens voel baie klein daarbuite en moet absolute vertroue hê in jou vennoot en toerusting en natuurlik die elemente."
* Hoewel daar heelwat vlieërplankryers is in Stilbaai gedurende seisoentye, is daar omtrent net ses ryers wat die sport voltyds beoefen. Casper beoefen die sport reeds vir 12 jaar en het vir Timo die fynere kunsies aangeleer.

Timo Pretorius en Casper Theron by hul vertrekpunt by Morrispunt in die Skulpiesbaai Natuurreservaat.Caper Theron tussen die seeskuim in Witsand nadat hy en Timo Pretorius suksesvol vanaf Stilbaai tot in Witsand met hul vlieërplanke gery het.Casper Theron en Timo Pretorius wat die afgelope week vanaf Stilbaai tot in Witsand (76 km in 3 ure) met hul vlieërplanke gery het. Klein Angelique, Timo se dogter sit op sy heup.