Gallery Update Video
STILBAAI SPORT NUUS EN VIDEO - Brullende enjins op die branders, helder sonskyn en entoesiastiese toeskouers was 'n wenresep vir die grootste Inverroche nasionale kragbootkompetisie op Lappiesbaai.
Ses en dertig bote het gedurende die naweek van 11 en 12 Mei met mekaar in drie klasse meegeding, naamlik standaard, 'pro-stock' en gemodifiseerd.
In die 'pro-stock'-klas was daar, buiten die huidige wêreldkampioene, Hessequa se Raynor Becker en Hugo Erasmus, ook vyf voormalige wêreldkampioene in aksie en almal was dit eens dat die kompetisie baie straf was. Becker en Erasmus het in hierdie klas as algehele wenners uit die stryd getree.
Volgens Becker, die koördineerder van die naweek, is die Inverroche nasionale kompetisie enig in sy soort op die kragbootkalender. Hy het die hoogste waardering vir die Hessequa-munisipaliteit wat die aansoek vir die wedren goedgekeur het. Hy bedank ook die hoofborg, Inverroche, en al die ander borge vir hulle ondersteuning.
Die branderkompetisie is Saterdag beslis en Sondag het die langafstandwedren, wat bestaan uit 100 km wat in 12 rondes verdeel is, aan die beurt gekom.
Die gedugte Hessequa-span is ook vriende.
Becker se loopbaan het in 2015 begin. Hy het in 1998 saam met sy gesin Stilbaai toe verhuis en hy herinner hom nog goed hoe hy as klein seuntjie die vragmotors wat kragbote vervoer, dopgehou het wanneer hulle by sy ouerhuis verbyry. Hy het geweet dit is dan tyd vir die Kaap-Agulhas-wedren en sy droom was toe al om eendag deel te neem.
Erasmus kom van Oudtshoorn, waar hy 'n leerder aan Langenhoven Gimnasium was. Al sal hy altyd dié Klein Karoo-dorp as sy tuisdorp beskou, woon hy nou in Riversdsal. As medejaer (co-pilot) help hy om die boot te navigeer en te balanseer, terwyl Becker die boot stuur en versnel wanneer dit nodig is. Die twee oefen gereeld in Stilbaai en bly so fiks. Erasmus ry ook graag op stofpaaie rond met sy veldmotorfiets.
Die volgende kragbootwêreld-kampioenskap word volgende jaar tussen 20 en 30 Maart ook in Stilbaai gehou en die opgewondenheid loop reeds hoog.
Wenners
- Branderkompetisie standaardklas: Joshua Myburgh en Johan Jansen;
- Branderkompetisie 'pro-stock'-klas: Dreyer van Niekerk en JD van Niekerk;
- Branderkompetisie gemodifiseerde klas: Wade Ball en Brandon Shaw;
- Langafstand standaardklas: Joshua Myburgh en Luke Myburgh;
- Langafstand 'pro-stock'-klas: Raynor Becker en Hugo Erasmus;
- Langafstand gemodifiseerde klas: Wade Ball en Brandon Shaw.
Kyk 'n video hieronder:
Aksie en vernuf soos hierdie het gesorg dat toeskouers tot aan die einde gebly het.
Lees 'n vorige artikel hier: Plaaslike span wen nasionale kragbootkompetisie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'