Update
STILBAAI NUUS - Die vierde Stilbaai Kajak Classic hengelkompetisie oor twee dae, op 12 en 13 Februarie was 'n reusesukses. Nie minder nie as 75 inskrywings is ontvang waarvan heelwat vanaf Kaapstad en omgewing.
Dit bewys weereens hoe belangrik Stilbaai as 'n sportbestemming is en baie van die hengelaars het hulle gesinne saamgebring om daarvan 'n familienaweek te maak.
Volgens Eugene van der Walt van Stilbaai Adventures, aanbieder van die kompetisie, is hulle baie tevrede en kan nie wag vir volgende jaar nie.
Die kompetisie het Saterdagoggend om 06:00 afgeskop, maar teen 04:30 was heelwat hengelaars reeds besig om voor te berei en toe dit begin lig word was hulle op die water.
Die lekker van kajakhengel is dat die ervare hengelaars ver en diep kan hengel, maar die beginners kan redelik vlak en naby bly. Saterdag het 'n totaal van 55 visse opgelewer, waarvan die grootste 'n 120cm kabeljou was.
Eugene van der Walt oorhandig Johanna Neate se prys vir die grootste vis deur 'n vrou gevang.
Sondag was die manne en vroue weer vroeg op die water om te probeer verbeter op hulle vangste van Saterdag. Om in aanmerking te kom vir die prys van grootste sak vis word jou beste van een van die twee dae gebruik.
Met die prysuitdeling was die afwagting groot, want buiten die pryse was daar ook gelukstrekkings met die groot trekpleister 'n kajak ter waarde van R15 500. Die groot aantal vrygewige borge het verseker dat elke inskrywing 'n gelukstrekkingprys gekry het.
Manie Rockman van Kaapstad ontvang sy prys van Eugene van der Walt vir die grootste sak vis. Foto's: Johan Victor
Wenners
- Grootste vis gevang deur 'n vrou: Johanna Neate;
- Grootste vis gevang deur 'n man: die kabeljou van 120cm gevang deur Jean du Toit;
- Grootste sak vis, 422 punte: Manie Rockman van Kaapstad.
Die trekking vir die kajak het vir 'n groot oomblik gesorg en Van der Walt het dit uitgerek deur eers vyf name te trek, waaruit die wennommer dan getrek sou word. Uit daardie vyf was een persoon nie daar nie en 'n nuwe kaartjie is getrek.
Die wenner is toe die 10-jarige Schalk Burger van Stilbaai. Hy het ook die prys gewen vir die jongste deelnemer aan die kompetisie.
Met die seisoen nou in volle swang is die volgende byeenkoms die naweek van 25 Maart op Witsand.
Die Stilbaaigroep wat deelgeneem het is van links Danie Cronjé, Brian Wheal, Morné D'Emiljo, Nicky Deetlefs, Herman Rudd, Frikkie King, Christiaan Zwiegelaar, Johan Stapelberg, Gawie Fourie, Terick Mostert, Jacques Viljoen, Christiaan van Wyk en Alan Neate.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'