Update
STILBAAI NUUS - Stilbaai se rots- en kushengelklub bied vanjaar vir die 27ste agtereenvolgende jaar die Stilbaai-galjoenderby aan wat op Saterdag 11 Augustus plaasvind.
Dit is vanjaar ook die grootste derby in die geskiedenis van dié kompetisie met 'n totaal van 456 hengelaars wat in 76 spanne wat van oor die land, van sover as Gauteng en Lichtenburg, Port Elizabeth en die Weskus reis om deel te neem.
Die derby, wat vir die tweede agtereenvolgende jaar deur Agio Baits geborg word, is boonop ook die grootste kompetisie van sy soort in die land waar alle visse en alle galjoene wat gevang word, weer veilig vrygelaat word, terwyl dit ook die grootste hengelkompetisie is waar visse gemerk word voor hulle weer vrygelaat word.
Dit is die rots- en kushengelkompetisie met die grootste prysgeld en 'n totaal van R160 000 is op die spel. Die hengelaar wat die swaarste galjoen uittrek, wen 'n katrol ter waarde van R15 000, terwyl die hengelaars van die 28 swaarste galjoene ook pryse wen. Ander pryse sluit onder andere in 'n prys vir die hengelaar en span wat in totaal die swaarste sak het, met ander woorde die totale gewig van al hul visse vir die dag weeg die meeste.
Drie Stilbaai-hengelaars, naamlik Coenie Jones, Dougie Kramer en André Manning het nog nie 'n galjoenderby gemis nie en neem dus vanjaar aan hul 27ste byeenkoms deel. René Cronje neem vir die 26ste keer vanjaar deel.
Die galjoenderby trek hengelaars van oor die land.
Laerskool Bertie Barnard het verlede jaar vir die eerste keer 'n spannetjie ingeskryf en vanjaar het hulle twee spanne. Daar is 'n prys vir die junior hengelaar wat die swaarste galjoen uittrek en hy (of sy) en vier vriende sal saam met die Springbok-hengelaar, AJ de Beer met hul boot, Savage Charter, op die diepsee gaan hengel.
Die hengelaars registreer Vrydagaand by die klubhuis en hengel Saterdag vanaf 07:00 tot 16:00. Hulle vang vanaf die hawemuur in Stilbaai tot by Heuningnesbaai anderkant Jongensfontein, met die prysuitdeling wat Saterdagaand in die Stilbaai-gemeenskapsaal aangebied word.
Meer inligting is beskikbaar by www.stilbaaigaljoenderby.co.za
Lees 'n vorige artikel: Galjoenderby die grootste nog
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'