Die dag se uitslae
Die span van Robertson Abattoir (Eben de Bod en Gerhard Fernhout) was in die eerste plek met Team Imperial Cargo (Wimpie
Ackerman en Whitey Louw) in die tweede plek. Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, rdl. Emor Nel het die prysuitdeling by Stilbaai se Lappiesbaaistrand bygewoon. Hessequa het vanjaar 'n groot finansiële bydrae gemaak tot die Trans Agulhas om so-
doende hul ondersteuning te gee aan die gewilde wedvaart. Die Trans Agulhas vind plaas oor vyf dae en 702 kilometer en het 'n reputasie as dié strafste rubberboot wedvaart in die wêreld. Hierdie jaar het 34 spanne, waarvan een van Rusland, ingeskryf.
Stilbaaiers maak hul merk
Raynor Becker en Burger Briedenhann (co-driver) van Stilbaai het ook aan die strawwe wedvaart in die 'nuweling-standaardklas' deelgeneem - 'n droom van Becker wat waar geword het. In 'n persoonlike onderhoud met Suid-Kaap FORUM noem Becker dat hy vir jare die Trans Agulhas van die kantlyn dopgehou het. Omdat dit 'n baie duur sportsoort is, moes hulle eers 'n borg kry. Volvo Cars in George het die geleentheid aange-gryp om die twee jongmanne se droom te bewaarheid deur 'n ruimhartige borgskap van
R30 000. Volgens Becker is dit nie net die onkoste van R5 500 per boot om deel te neem nie, maar ook onderhouds- en brand-stofkostes, asook uitgawes vir die bystandspan van agt mense. "Die borgskap het ongelooflik baie beteken en gehelp om die droom te bewaarheid", vertel hy.
Team Volvo, soos Becker en Briedenhann bekend gestaan het tydens die wedvaart, het baie goed gevaar vir hul eerste Trans Agulhas. Ongelukkig het die engin 'n 'top gasket' geblaas by Glentana en moes hul noodgedwonge per voertuig na Stilbaai om die skade te herstel en daarna na Mosselbaai om die volgende been van die wedvaart aan te pak. In Stilbaai het die erge seetoestande van vyf tot ses meter deinings, asook sterk winde dinge gekniehalter en kon die 'Surf Circuit' nie plaasvind nie, maar was Becker en Briedenhann vyfde in hul klas.
Met aankoms te Struisbaai vanaf Stilbaai was Team Volvo algeheel 16de uit 34 bote en tweede in hul klas. Die middag tydens die Surf Circuit het Team Volvo hul naam gestand gedoen en 'n eerste plek behaal. Van Struisbaai na Hermanus was dit vasbyt en deursettingsvermoë. Becker vertel: "Ons het net ons oë toegemaak en vir die kortpaaie tussen die bamboes gegaan". Meer ervare ryers ken al die roete en weet waarvoor om op die hoede te wees. Buiten die uitdaging het hulle weer tweede in hul klas en 11de algeheel geëindig. In die Surf Circuit het hul tweede in hul klas, asook algeheel geëindig. Die gewilde nagresies in Hermanus is afgestel weens rowwe seetoestande. Met vertrek van Hermanus na die Strand het Team Volvo gereed gestaan vir 'n 'rolling start', maar moes noodgedwonge onttrek weens enjinprobleme. Hulle is per voertuig na die strand, waar hul enjin blitsvinnig herstel is en hulle aan die Surf Circuit resies kon deelneem. Hier was hul ver voor, maar weens drie bote wat omgeslaan het, is die Surf Circuit afgelas.
Becker vertel dat die sport reeds 'n gevestigde sportsoort is met die Summer Series wat maandeliks plaasvind, asook vier nasionale kompetisies, dus is daar heeljaar geleentheid om die sport te beoefen. Ten slotte noem Becker dat hy en Briedenhann beslis gaan deelneem aan die 2014 Trans Agulhas en het heelwat geleer uit hul eerste ervaring van die wedvaart. Volgens hom sal dit 'n vooreg wees om Volvo Cars George as borg te kan behou.
Roete
Die Trans Agulhas se roete is soos volg: (Dag 1) - Plettenbergbaai na Mosselbaai 189km; (Dag 2) - Mosselbaai na Stilbaai 86km; (Dag 3) - Stilbaai na Struisbaai 161km; (Dag 4) - Struisbaai na Hermanus 135km en (Dag 5) - Hermanus na Strand (131km).
_608361343.jpg)
Rayoner en Burger na afloop van die Mosselbaai na Stilbaai been van die wedvaart. Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, rdl. Emor Nel staan by. Foto: Dries de Beer
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai | Hessequa nuus'