Gallery
STILBAAI NUUS - Die 30ste weergawe van die Jumtree Trans Agulhas-opblaasbootwedren wat oor vyf dae vanaf Plettenbergbaai tot in die Kaap plaasvind, het weereens op 29 Desember hier aangedoen.
Die 86 km-ren gedeelte vanaf Santosstrand in Mosselbaai tot by Lappiesbaai in Stilbaai het die tweede been van die wedren gevorm en deelnemers moes uiterste weersomstandighede en baie sterk winde op dié dag trotseer. 'n Groot skare het die bote ingewag wat 08:00 uit Mosselbaai vertrek het met 'n wind wat tot soveel as 55 km/h gewaai het.
Die bote het een vir een onder luide toejuiging op die strand aangekom met die navigator wat so gou as moontlik op die strand moes afspring en tot by die finale eindpunt moes hardloop. Die plaaslike span van Albertinia Meubelvervoer met Ivan Botha (jaer), wat aan sy vierde Trans Agulhas-ren deelneem en die 16-jarige Pieter Oosthuizen (navigator) vir wie dit 'n eerste ondervinding was, was tussen die spanne wat ook die eindbestemming suksesvol bereik het. Daar was meer as 30 bote met spanne van oor die land, insluitende wêreldkampioene wat in verskillende klasse deelgeneem het.
Nadat al die bote Stilbaai veilig bereik het, het hulle aan die Koning van die Branders-ren deelgeneem waar die deelnemers in hul onderskeie klasse drie sirkelroetes moes voltooi. Die gedeelte is tot drie rondes verkort as gevolg van die uiters sterk wind en rowwe seetoestande. Die opwindende aksie het die skare behoorlik na hul asems laat snak, veral wanneer die bote in die branders omslaan.
Botha en Oosthuizen het aan die einde van dié dag se rengedeelte in Stilbaai van die negende plek in die professionele standaardklas na die agtste plek opgeskuif. Hulle was uiteindelik sewende in hul klas waar 11 spanne die ren voltooi het.
Meeste spanne het die aand met hul vragmotors en ondersteuningspanne op die dorp se sportterrein oornag en het die volgende oggend om 08:00 weer vanaf Lappiesbaai vertrek. Hul volgende bestemming was Struisbaai, terwyl hulle die vierde aand in Gansbaai oornag het om uiteindelik, na amper 700 km by die Strand te eindig.
Botha en Oosthuizen het uiteindelik sewende in hul klas geëindig.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'