RIVERSDAL NUUS - Laerskool Volschenk se dogters het hul eweknieë van Ashton Maandagmiddag by Oakdale 'n paar tennislesse gegee. Maar die seuns het effe gesukkel en moes uiteindelik die knie teen die besoekers buig.
Dié twee skole het mekaar op 'n gul middag in enkel- en dubbelspelwedstryde gepak en ook vir 'n eerste keer in gemengde dubbels meegeding. Alle wedstryde is oor een stel (ses potte) beslis.
Gesonde mededinging en goeie sportmangees het deurentyd geheers.
Vollies se dogters het Ashton met 19 - 10 geklop, maar die besoekende seuns het met 16 - 13 geseëvier. Vollies het ter versagting sy eerste- en tweedespanspelers ingespan.
In die dubbels het Vollies weer met 21 - 13 die bordjies verhang, maar in die gemengde dubbelspelwedstryde het Ashton naelskraap met 6 - 4 gewen.
FOTOGALERY: Tennislesse by Oakdale vir Laerskool Volschenk se kinders
Bea-Mari Vosloo konsentreer om haar rughandhou terug te stuur.
Gian Silva moes spring om dié terughou by te kom. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'