HESSEQUA NUUS - SWD-rugbyunie (SWDRU) het besluit om die voorgestelde rugbystruktuur van die spelbeurtlys vir presidentsklubs wat vir 2019 vir drie streke in plek gestel was, terug te verander.
Fred Carelse, voorsitter van Albertinia Rangers-rugbyklub, het in 'n e-pos aan Suid-Kaap Forum gesê dat die SWDRU dié konsep spelbeurtlyste (Super liga B) per e-pos aan klubs versend het.
"Die samestelling is een van die beste top-12-presidentspanne wat in die nuwe voorgestelde kompetisie ingedeel is, naamlik Albertinia Rangers, Riversdal Dorp, Riversdal Blues, Mosselbaai, Spring Roses, Willowmore, Prins Albert, Bitou, All Blacks, Collegians, Eagle Stars en Happy Hearts, om rugby meer kompeterend te maak in dié liga."
By navraag aan Hennie Baartman, president van die SWDRU, het hy gesê dat 40 klubs, teen die nuwe rugbystruktuur gestem het en slegs drie daarvóór omdat vervoerkoste onder andere drasties sou verhoog.
Die besluit is geneem dat daar weer na die 2018-seisoen se formaat teruggekeer sal word.
"Dit is in ag genome dat die program wel later sal begin as die premierklubs. Die rede hiervoor is dat die presidentsklubs minder wedstryde sal speel as die premierklubs."
Die datums vir die halfeind- en eindronde vir die premierklubs sal so bly.
Carelse is van mening dat dit beteken dat rugby nie meer kompeterend gaan wees nie. "Mnr. Grant Riddles kan mos heftig teenkanting in die 'raad' maak dat die geld vir busvervoer om Hessequa-klubs te help om in die nuwe voorgestelde super liga B-kompetisie te speel. Albertinia Rangers gaan nie deelneem nie, want belastingbetalers se geld kan ook mos gebruik word vir vervoerkoste ter ondersteuning van voorgestelde konsep rugbykompetisie."
Riddles het by navraag gesê dat hy die vergadering wat teen die voorgestelde rugbykonsep gestem het, as voorsitter van Seagulls bygewoon het om die belange van sy span te beskerm en nie as eerste burger nie.Hy het bygevoeg dat die nuwe spelbeurt nie al die spanne in die streek sou bevoordeel nie.
'n Rugbykenner wat vir lank by SWD betrokke was en verstaan hoe spelbeurte werk, is vir kommentaar genader: "Dit is wel so dat 'n nuwe konsepliga opgestel is. Vervoerkoste is klubs se hoogste uitgawe. Met die nuwe 2019-konsep was dit ooglopend dat vervoerkoste drasties sou verhoog. Die tradisionele derbywedstryde tussen Seagulls, Riversdal en Blues sou wegval, wat die meeste toeskouers getrek het en dus die broodnodige hekgelde ingebring het. Dit staan klubs vry om vriendskaplike wedstryde teen sterker spanne te speel as hulle hul spel wil lig. Toeskouers wil die derby's sien. Klubs moenie hul ondersteuners as gevolg van hul eie agendas verloor nie."
In 'n verdere e-pos aan die SWDRU het Carelse aansoek gedoen om in die kusstreek van SWD-rugbyunie, George ingedeel te word. Baartman het aan die koerant genoem dat hy geen verdere kommentaar oor die aangeleentheid kan lewer nie, omdat die spelbeurte nog nie gefinaliseer is nie.
Enige verdere korrespondensie of navrae oor die saak, moet direk aan die SWDRU gerig word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'