Gallery
STILBAAI NUUS - Seagulls se eerste rugbyspan het Saterdag 28 Oktober gestruikel oor die voorlaaste hekkie en kon dus nie kwalifiseer vir die Superliga B se eindstryd nie.
Hulle het die wedstryd teen All Blacks van Oudtshoorn in koue en nat omstandighede op hul tuisveld in Melkhoutfontein verwoed begin en die besoekers aanvanklik in die lug laat rondtas.
Dit was 'n tipiese halfeindstryd wat die heeltyd wipplank gery het, maar Seagulls het met die omdraaislag nog heel gemaklik in beheer gelyk en was voor met 20 - 13.
Met drie minute se speeltyd oor was hulle steeds voor met 32 - 30 en gemaklik binne die All Blacks se halfgebied toe die noodlot toeslaan.
'n Verbroude woer-woer poging met 'n mislukte skepskop pale toe was die doodslag vir die tuisspan en het All Blacks 'n kans gegee om toe te slaan en het hulle met alles wat hulle het verwoed, selfs deseperaat, aangeval.
FOTOGALERY: Seagulls eerste rugbyspan speel teen All Blacks
John Busch op een van sy kenmerkende stormlopies.
Die uiteinde was 'n drie onder die pale en die eindfluitjie het geblaas met All Blacks wat met 37 - 32 kon wen.
Puntemakers vir Seagulls was drieë deur Exzaviour Francis, Hackeem Jansen, Joswin Esau, Anré Vermeulen en Ralph Visagie.
Curnal Sollmans slaag met twee doelskoppe en 'n strafskop.
Die speler van die wedstryd was Henrico Riddles. Dit was hartverskeurend vir Seagulls en as dit nie was vir die All Blacks-ondersteuners nie sou daar 'n grafstilte oor die sportterrein gehang het.
Seagulls kan egter met hulle koppe omhoog loop aangesien hulle die wedstryd tot aan die einde in die sakkie gehad het.
Anré Vermeulen bars oor vir sy drie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’