STILBAAI NUUS - Die SWD Rugbyvoetbalunie moes noodgedwonge die wedstryd tussen Seagulls en Prins Albert, wat vandag 23 Mei in Melkhoutfontein sou plaasvind, afstel.
Die onlangse stormweer het daartoe gelei dat beide Meiringspoort en die Swartbergpas vir 'n onbepaalde tydperk gesluit is, wat dit onmoontlik maak vir die Prins Albert-spanne om na Melkhoutfontein te reis.
Die afstel van die wedstryd is 'n teleurstelling vir die talle ondersteuners wat uitgesien het na die kragmeting op die Graveyard.
Boonop is Seagulls se volgende twee wedstryde ook wegwedstryde. Die spanne reis op Saterdag, 30 Mei, na Uniondale en speel die daaropvolgende Saterdag in Oudtshoorn.
Ondersteuners sal dus moet wag tot Saterdag, 13 Junie, voordat daar weer rugbyaksie in Melkhoutfontein is wanneer Knysna vir 'n ligawedstryd besoek aflê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’