RUGBY NUUS - Hy wil weer vir die Springbokke uitdraf en in nog toetse vir Suid-Afrika speel.
So het Armand (Akker) van der Merwe, Maandag by sy ouerhuis in George vertel.
Die 28-jarige Van der Merwe, wat oorspronklik van George kom, kuier op die oomblik saam met sy vrou, Angie, en hul seuntjie, Anrich (2), by sy ouers in George. As gevolg van die inperking, kan hulle nie in die stadium beweeg nie, maar is van plan om later vandeesmaand na Engeland terug te keer waar hy deesdae gebaseer is.
Van der Merwe was 'n leerder aan Laerskool George-Suid en Hoërskool Outeniqua. In 2009 was hy in die SWD Cravenweekspan. Hy het daarna onder meer 'n draai by die Pukke gaan maak en later vir die Lions in Gauteng en die Sharks in KwaZulu-Natal gespeel. In 2018 het hy Springbok geword en is sedert 2019 by die Sale Sharks in Manchester, Engeland.
Volgens Van der Merwe is hy en die ander Suid-Afrikaanse spelers by die Sale Sharks in Maart ingelig dat hulle na Suid-Afrika kon terugkeer voordat die inperking daar in werking sou tree.
Hy en sy gesin het op 24 Maart in Suid-Afrika aangekom. Die aand toe pres. Cyril Ramaphosa die inperking in Suid-Afrika aankondig, was hulle op die vliegtuig. Met hulle aankoms is hulle byna in kwarantyn geplaas, maar later laat gaan. Gelukkig woon sy skoonouers in Johannesburg en hulle het daar vir 'n paar weke in selfisolasie tuisgegaan. Hulle is later negatief getoets en 'n paar weke gelede het hulle na George gekom waar hulle nou by sy ouers, Alhan en Dulene kuier.
Van der Merwe het gesê dit bly 'n uitdaging om fiks te bly. Veral omdat hy net tussen 06:00 en 09:00 buite hul erf kan oefen. Hy sal graag op 'n veld wil oefen, maar dit kan nie gebeur nie. "Dis frustrerend."
Hy draf en benut ook die geleentheid om saam met vriende by die Tuinroetedam fiets te ry.
Crossfit in George het gewigte aan hom beskikbaar gestel waarmee hy tans oefen, dit help. Van der Merwe se vrou oefen ook saam met hom.
Ofskoon dit tye van groot aanpassing is, geniet hy dit om in George te wees. "Dit is die plek waar ek grootgeword het en George sal altyd 'n sagte plekkie in my hart hê."
Daar is nog sommer baie rugby in hom. Hy gaan beslis weer probeer om die groen en goud te dra en in die voorry as haker te sak. "Ek wil nie net in drie toetse gespeel het nie."
Sy plan is om oor 'n paar jaar na Suid-Afrika terug te keer en sy rugbyloopbaan hier af te sluit.
Hy het hoop vir Suid-Afrikaanse rugby. "Ek glo ons rugby sal van krag tot krag gaan."
Hy glo ook die huidige situasie, wat alle rugbyspelers in die wêreld raak, sal verander en dat hulle die geleentheid sal kry om weer te speel.
Sy advies aan mense in die huidige omstandighede is om hul met dinge besig te hou wat hul gelukkig maak.
Van der Merwe is ook baie trots op sy jonger broer, Duhan, wat reeds sy stempel in Skotse rugby afdruk. Die moontlikheid dat hy later vir Skotland se nasionale span sal kan uitdraf is nie uitgesluit nie.
Springbok rugby player Armand (Akker) van der Merwe and his family have been able to leave the UK and come home to SA just before lockdown was enacted. They are currently staying with his parents in George, but intend returning to Manchester, where he plays for Sale Sharks, later this month. Although it is challenging times, he loves to be in George, where he grew up. He stresses that he would definitely like to play for the Springboks again.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'