HEIDELBERG - Dis nie die eindtelling wat op die ou end saakmaak nie, maar wel Heibi se prestasie om in slegs sy tweede seisoen die eindronde van die rugby-premierliga te haal.
Vir die spelers en bestuur en al die ondersteuners in die Hessequa-dorpe wat die span na elke wedstryd gevolg het was Saterdag se aankondiging dat Heidelberg Kaap ’n top vier-span is, iets waarmee voortaan rekening gehou sal moet word.
Die Heibi-span en sy ondersteuners het duidelik iets nuuts in die SWD-liga gebring. Daar’s groter belangstelling as ooit in klubrugby.
Die honderde ondersteuners wat elke week saamreis het ander klubs laat skarrel om soveel mense moontlik as teenvoeter vir Heibi se sang en orkes by hul wedstryde te kry. Kleiner spanne prys die span openlik, want hul hekgelde skiet die hoogte in as die Heidelbergers in die dorp kom speel. Albei senters het SWD-diens gedoen hierdie seisoen.
Daar’s respek vir Heibi se rugby na Saterdag 14 September. Die gemeenskap van Heidelberg loop vandag trots rond. Die Young Stars se rugby-nalatenskap herleef. Met hierdie vertoning beweeg die klub nader aan die droom om die liga-trofee omhoog te hou. Ondersteuners en spanbestuur beskou hul spanne as beter toegerus met BMT (‘big match temperament’) en met die vooruitsig van ’n halfeindronde by die huis voor eie skare. “Hoe’s daai om na uit te sien?” vra ’n oud-speler van die dorp. “Kom ons leer uit die verloor en kyk vorentoe!”
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'