TUINROETE RUGBYNUUS - Seagulls Rugbyklub se jong B-span is Saterdag 21 September vir hul harde werk van die afgelope seisoen beloon en is as die 2019-kampioene gekroon.
Hulle het in die SWD Presidentsbeker-eindstryd op Outeniquapark teen Eagle Stars van Sedgefield kragte gemeet en die wedstryd 19-14 gewen.
Volgens Hessequa-burgemeester Grant Riddles is hy baie trots op die span en hy het heeltyd geglo hulle sal die knoop deurhaak.
Die span was uit die staanspoor briljant en het die bal behoorlik wyd gespeel. Twee pragdrieë is as gevolg van goeie balverspreiding en klipharde verdediging van die voor- en agterspelers gedruk.
Gurdvin Kleinhans, die span se sterk senter was omtrent 'n handvol as hy met bal begin hardloop. Hy is as speler van die wedstryd aangewys. Edmund Nomdo (1) en Emile October (2) het hul span se drieë gedruk en Louwrens Waterboer het die skopwerk waargeneem.
Seagulls se afrigters John Albertyn en Pieterjohn Pieterse het die trofee en prysgeld van R4 000 ontvang.
Riddles en die klubbestuur en -afrigters bedank die span se ondersteuners van die afgelope jaar.
Seagulls se B-span met hul prysgeld en die trofee as die 2019-kampioene.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'