STILBAAI NUUS - Dit was Saterdag 25 Julie 'n feesdag vir Seagulls én hul ondersteuners toe die span Uniondale United met 'n oorwinning van 54 - 19 in Melkhoutfontein oorheers het.
Van die eerste afskop af het Seagulls die besoekers oorheers. Die tuisspan se pak voorspelers het die manne uit die Langkloof soos appelkratte oor die veld rondgestoot en uitstekende platforms geskep waaruit die agterspelers met spoed en flair kon aanval.
Hoewel die eindtelling 54 - 19 was, weerspieël dit nie heeltemal Seagulls se oorheersing nie. Ná rustyd het die tuisspan vir 'n tyd lank momentum verloor en Uniondale die geleentheid gebied om meer balbesit te geniet en punte aan te teken.
Teen rustyd was Seagulls reeds stewig in beheer met 'n voorsprong van 35 - 12, wat die uitslag feitlik beklink het. Uniondale kon in die tweede helfte slegs een verdoelde drie byvoeg, terwyl Seagulls nog 19 punte aangeteken het.
Die A-span se punte is aangeteken deur Jaydri van Wyngaardt en Owen Pietersen, wat elk twee drieë gedruk het. Joswin Esau, Hyron Oktober en plaasvervangers Gurdvin Kleinhans en Justin Kombela het elk ook oor die doellyn gegaan. Curnall Sollmans het drie doelskoppe oorgeklits, Owen Pietersen twee en die plaasvervanger Erhard Visagie nog twee.
Speler van die wedstryd was die linkervleuel, Owen Pietersen.
Seagulls se B-span moes intussen met 'n 12 - 12 gelykopuitslag tevrede wees nadat hulle rustyd met 0 - 5 agter was. Dit was 'n taai en gelykop wedstryd waarin Seagulls hul geleenthede goed benut het en tot die laaste fluitjie vir die gelykopuitslag geveg het.
Seagulls se punte het gekom van 'n strafdrie en 'n drie deur plaasvervanger Zayne Booysen.
Die B-span se speler van die wedstryd was Justin Kombela.
Seagulls reis komende Saterdag na Riversdal vir wat na verwagting nog 'n taai en opwindende derby sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’