STILBAAI NUUS - Seagulls het Saterdag 1 Augustus met gemengde welslae teruggekeer na hulle wegwedstryd teen Riversdal Dorp.
Die B-span het hulle goeie vorm voortgesit en Riversdal se B-span met 36 - 12 geklop nadat hulle rustyd reeds met 24 - 0 voorgeloop het.
Seagulls het in die proses ses drieë aangeteken teenoor die twee van Riversdal.
Donovan Verwey het baljaar op senter en twee drieë gedruk, terwyl Neville Daries, Ruben Daries, Chriswin-Lee Jansen en Cowan Uithaler elk een bygevoeg het. Die heelagter Angelo Saayman het geslaag met drie doelskoppe.
Seagulls se A-span het die onderspit gedelf met 'n telling van 27 - 22 in die guns van Riversdal. Die rustyd telling was 17 - 5 in Riversdal se guns en alhoewel Seagulls vier drieë teenoor Riversdal se drie gedruk het was dit nie genoeg om 'n oorwinning te beklink nie.
Vir Seagulls het die haastige linkervleuel, Owen Pietersen , agsteman Joswin Esau, flank Hyron Oktober en plaasvervanger Denzil Oosthuizen gedruk, met Wilhelm Sollmans wat 'n doelskop bygedra het.
Die klubs het almal 'n loslootjie hierdie naweek en Seagulls se volgende wedstryd is weg teen Happy Hearts op 15 Augustus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’