Gallery
STILBAAI NUUS - Seagulls van Melkhoutfontein het Saterdag op al hul silinders gevuur en twee puik oorwinnings teen Knysna United behaal.
Die A-span het weliswaar gesukkel om aan die gang te kom, maar dit was te danke aan die negatiewe spel van Knysna wat dan ook baie strafskoppe afgestaan het.
Dit het soms gelyk asof die wedstryd van strafskop na strafskop beweeg, wat weer gelei het tot frustrasie en slordige spel.
Beide spanne het heelwat bewegings op hul doellyn gestuit, maar Seagulls wat nooit in die moeilikheid gelyk het nie, het die wedstryd met 35 - 12 gewen.
Vir die wenspan het hul sterk senter, Hackeem Jansen, wat fyn dopgehou is, gedruk asook Jerome Esau, Ruben Daries, Ralph Visagie en Curnall Solamons.
Donavan Verwey het geslaag met vyf doelskoppe.
Die B-span het hulle wedstryd gemaklik met 27 - 10 gewen.
Hulle het die bal lustig rondgegooi en Knysna deurmekaar gehardloop.
Knysna se wedstrydplan was gebou rondom hulle groot en swaar spelers, maar hulle kon net eenvoudig nie die pas teen Seagulls volhou nie.
Vir Seagulls het Teswill Rhoda, Emile October, Eldon Manho en Morné Sefoor gedruk, terwyl Jason Lawrence met twee doelskoppe geslaag het en Angelo Saayman het 'n strafskop oorgeklits.
Seagulls is op die oomblik nog goed geplaas om met albei spanne in die topagt klaar te maak en met die tipe spel wat hulle tans opdis gaan hulle nog heelwat spanne knak.
Zane Booysen van Seagulls klap die bal vir sy haker, terwyl Anré Vermeulen, kaptein, sake goed dophou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’