STILBAAI NUUS - Seagulls-rugbyklub reis Saterdag 27 Junie na Oudtshoorn waar hulle hul eerste ronde verpligtinge in die SWD Eersteliga sal afhandel.
Die wedstryd teen Oudtshoorn-rugbyklub sou oorspronklik op 6 Junie plaasgevind het, maar is uitgestel weens die verwoestende storms wat die Klein Karoo op daardie stadium getref het.
Die swak weer het ook ander wedstryde beïnvloed. Prins Albert kon nie na Melkhoutfontein reis om hul wedstryd teen Seagulls te speel nie, waarna die rugbyunie besluit het om die ligapunte tussen die twee klubs te verdeel.
Knysna kon eweneens nie hul verpligtinge nakom nie en het aan die wedstryd onttrek. In dié geval is die ligapunte aan Seagulls toegeken.
Die afgelaste wedstryde was ook 'n teleurstelling vir plaaslike ondersteuners, wat twee tuiswedstryde misgeloop het.
Oudtshoorn op die Rec is tradisioneel 'n moeilike teenstander om op hul tuisveld te klop. Seagulls se voorbereiding het egter volgens plan verloop en die span sal met selfvertroue en vasberadenheid die reis na Oudtshoorn aanpak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’