STILBAAI NUUS - Seagulls sal nie Saterdag 6 Junie na Oudtshoorn reis vir hul ligawedstryd teen Oudtshoorn-rugbyklub nie. Die wedstryd is weens die voorspelde ernstige weerstoestande uitgestel.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het alle sportaktiwiteite op munisipale sportfasiliteite vir die naweek van 5 en 6 Junie gekanselleer weens die moontlike onveilige toestand van speelvelde wat deur die verwagte gure weer veroorsaak kan word.
Die twee klubs het reeds met mekaar geskakel en die enigste geskikte datum vir albei spanne is Saterdag 27 Junie. Die voorstel is deur Oudtshoorn-rugbyklub aan die SWD-rugbyunie voorgelê vir oorweging.
Die aanhoudende nat en koue toestande in die Tuinroete en Klein-Karoo het die rugbyprogram die afgelope paar weke behoorlik ontwrig. Die wedstyd tussen Seagulls en Prins Albert, wat op 23 Mei gespeel sou word, moes ook afgestel word nadat Meiringspoort en die Swartbergpas gesluit is.
In daardie geval het die Unie besluit dat die twee spanne die ligapunte deel.
Seagulls hoop nou dat die Unie die voorgestelde datum van 27 Junie sal goedkeur sodat beide spanne die geleentheid kry om die wedstryd te speel en vir volpunte mee te ding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’