STILBAAI NUUS - Seagulls-rugbyklub van Melkhoutfontein het Saterdagaand 18 Julie met gemengde welslae van hul SWD-rugbyverpligtinge in Knysna teruggekeer.
Die A-span het 'n indrukwekkende 30 - 13-oorwinning oor Knysna United behaal nadat hulle teen rustyd reeds met 16 - 10 voorgeloop het. Die bonuspuntsege op vreemde bodem het aan Seagulls die maksimum vyf ligapunte besorg en hul posisie op die punteleer verder versterk.
Christo Jantjies is as die man van die wedstryd aangewys nadat hy met 'n uitstaande vertoning op die veld die voortou geneem het en die span met toewyding geïnspireer het.
Die B-span se uitslag was minder gunstig. Hoewel Seagulls rustyd met 15 - 10 voorgeloop het, het Knysna United in die tweede helfte die momentum oorgeneem en 22 punte aangeteken. Seagulls kon slegs met een verdoelde drie antwoord en moes uiteindelik met 32 - 22 die knie buig.
Jason Robertson is as die B-span se man van die wedstryd aangewys vir sy sterk vertoning.
Seagulls keer Saterdag 25 Julie terug na hul tuisveld in Melkhoutfontein waar Uniondale op besoek kom. Plaaslike ondersteuners sal dan weer die geleentheid hê om hul span in aksie te sien terwyl Seagulls hul goeie vorm wil voortsit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’