STILBAAI NUUS - Seagulls-ondersteuners kan hulle regmaak vir 'n rugbyfees op Saterdag 5 September wanneer al drie die klub se spanne in halfeindstryde betrokke is.
Ná afloop van die laaste ligabepalings het Seagulls se A- en C-spanne die liga in die eerste posisie afgesluit, terwyl die B-span derde geëindig het. Dit beteken dat al drie spanne hul halfeindstryde tuis op die Graveyard in Melkhoutfontein sal speel.
Die A- en B-spanne pak albei vir Happy Hearts, terwyl die C-span se teenstander nog aangekondig sal word.
Dat al drie Seagulls-spanne daarin geslaag het om die halfeindstryd te haal, is 'n besondere prestasie en sorg vir groot opgewondenheid onder die klub se ondersteuners.
Met die wedstryde wat op die Graveyard beslis word, is die tafel gedek vir 'n behoorlike rugbydag in Melklhoutfontein. Al wat nou kortkom, is dat die fanatiese Seagulls-ondersteuners die pawiljoene vol pak en hul spanne met 'n gejuig tot in die eindstryde dra.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’