STILBAAI NUUS - Collegians van Oudtshoorn het hulle Saterdag, 28 Maart, in 'n begeesterde Seagulls-rugbyklub vasgeloop en albei hulle spanne se neuse is behoorlik in die gras van die Melkhoutfontein-sportgronde gevryf.
Seagulls se tweedespan het van die afskop af ingeklim en was teen rustyd 14 - 0 voor. Met goeie verdediging en inklimspel het hulle nog drie drieë in die tweede helfte bygevoeg om die wedstryd met 36 - 0 te wen.
Die drieë is gedruk deur Eldon Manho, Lee-Wayd Smit, Denzille Oosthuizen en Angelo Saayman (2). 'n Strafdrie is ook deur die skeidsregter toegeken. Jason Lawrence het twee doelskoppe bygevoeg.
Die eerstespan se verdediging was in die eerste helfte maar so-so en Collegians kon 17 punte aanteken om die rustydtelling op 26 - 17 te bring. Daar is egter hard gepraat tydens rustyd en Collegians kon geen verdere punte in die tweede helfte byvoeg nie. Seagulls het uiteindelik 'n indrukwekkende oorwinning van 61 - 17 behaal.
Seagulls se skrum het die oorhand gehad en die teenstanders totaal oordonder, wat die agterspelers geleentheid gegee om die bal lustig rond te gooi. Daarby het 'n paar monster kantlynskoppe die druk verder verhoog en Collegians se moed gebreek.
Seagulls het altesaam 9 drieë gedruk. Wilhelm Sollmans (2), Owen Pietersen (2), Ashwin Botha (2), Donovan Verwey, Joswin Esau en Jason Lawrence het elk gaan druk. Sollmans was uitstekend met die skoen en het 8 doelskoppe suksesvol oorgesit.