STILBAAI NUUS - Seagulls pak Saterdag vir Knysna United in Knysna wanneer hulle hul tweede ronde-veldtog in die SWD Rugbyvoetbalunie (SWDRVU) se Eersteliga A-afdeling voortsit.
Die span se lojale ondersteuners sal dus nog 'n week moet wag voordat hulle weer hul gunstelinge op tuisbodem in aksie kan sien.
Seagulls het verlede Saterdag hul veldtog op 'n wennoot begin toe hulle Collegians in Oudtshoorn geklop het en sal daarop ingestel wees om dié momentum in hul tweede wegwedstryd van die ronde voort te sit.
Knysna United sal egter gretig wees om hulself te bewys nadat hulle verlede maand hul wedstryd teen Seagulls in Melkhoutfontein moes afstaan omdat hulle nie genoeg spelers kon bymekaar kry nie. Dit skep die moontlikheid van 'n taai en interessante kragmeting.
Ondersteuners hoef egter nie lank te wag voor die volgende tuiswedstryd nie. Op Saterdag 25 Julie ontvang Seagulls vir Uniondale op Melkhoutfontein in wat beloof om 'n opwindende bulstryd voor die tuisskare te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’