STILBAAI NUUS - Seagulls het Saterdag 12 September op Outeniquapark in George met net een doel voor oë die Eersteliga-eindstryd teen Uniondale United aangepak: om die trofee terug te bring Melkhoutfontein toe.
Die ondersteuners wat nie die reis George toe kon meemaak nie, kon darem die groot kragmeting op televisie volg.
Seagulls het van die afskop af verwoed ingeklim en met 'n indrukwekkende eerste helfte het hulle teen rustyd reeds met 21 - 0 voorgeloop.
In die tweede helfte het Seagulls egter die voet effens van die petrolpedaal afgehaal en kon net een verdere drie by hulle totaal voeg. Dit was nietemin genoeg om Uniondale United met 28 - 17 te klop en die span as die SWDRVU Eersteliga-kampioene vir 2026 te kroon.
Seagulls se punte het gekom van drieë deur Jaydri van Wyngaard, Hyron October, Jason-Lee Pieterse en Devan Kleinhans. Ashwin Botha het met vier doelskoppe geslaag.
B-span loop hul teen Albertinia vas
Vroeër die dag was Seagulls se B-span in die eindstryd teen Albertinia Rangers in aksie. Hier het sake egter heelwat anders verloop.
Albertinia het van die begin af die toon aangegee en het rustyd met 16 - 3 voorgeloop. Die Rangers het hul voorsprong in die tweede helfte verder uitgebou en het uiteindelik met 34 - 10 geseëvier.
Hoewel die nederlaag 'n bitter pil vir Seagulls se B-span was, is daar darem 'n stukkie troos: Albertinia Rangers bring steeds 'n trofee terug na Hessequa.
Seagulls se punte het gekom van 'n drie deur Cowan Uithaler, 'n doelskop deur Teswill Rhoda en 'n strafskop deur Angelo Saayman.
Die spelers kan nou uitsien na 'n welverdiende ruskans ná 'n lang seisoen. Die afrigters sit egter nie stil nie en is reeds besig om planne te beraam vir die 2027-seisoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’