MELKHOUTFONTEIN NUUS - Met SWD Rugby se amptelike liga wat op 10 Maart afskop, is alle spanne nou met finale voorbereiding, beplanning en kombinasies besig om seker te maak hulle presteer goed in dié gewilde kompetisie.
Die wedstryde tussen Seagulls- en Riversdal-rugbyklubs Saterdag 24 Februarie was harde taai wedstryde waarin wedstrydfiksheid ’n groot rol gespeel het. Die toeskouers het weer in groot getalle by Melkhoutfontein sportvelde opgedaag om die tweestryd te aanskou.
Dit was duidelik dat beide spanne die vriendskaplike wedstryde nie ligtelik opneem nie.
Geen genade is gegee of gevra nie. Hoewel die uitslag van vriendskaplike wedstryde net vir die rekord is, was dit belangrik vir al die afrigters om seker te maak daar word by die wedstrydplanne gehou.
Lynstaan- en skrumtegnieke is uiters belangrik in die komende ligawedstryde en baie aandag is aan die afdelings van die spel gegee.
Seagulls B het die botoon gevoer teen Riversdal B, maar Seagulls A het teen Riversdal A vasgeval.
Die twee spanne ontmoet mekaar weer in die laaste vriendskaplike wedstryde by Riversdal sportterrein eerskomende Saterdag 3 Maart.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'