Gallery Update Video
MELKHOUTFONTEIN RUGBY NUUS EN VIDEO - Die Seagulls-rugbyklub het die seisoen met 'n vriendskaplike kragmeting teen die Riversdal Blues afgeskop.
Seagulls se A- en B-spanne het Saterdag 2 Februarie op dié dorp se veld uitgedraf.
Die Seagulls A-span het gelykop met 'n telling van 10 elk gespeel. Die Blues het vir 'n groot deel van die wedstryd voorgeloop, maar kort voor die eindfluitjie het die Seagulls 'n drie gedruk en verdoel.
Die B-span wen hulle teenstanders met 10-7.
Volgens die Seagulls se afrigter, Duane Deutschen, is hy tevrede met sy spanne se vertonings, al is daar nog skaafwerk nodig. Hy reken die vaste voorspelers sal moet aandag kry.
Saterdag se wedstryd was die eerste op vanjaar se lys van die Langeberg Presidentsliga waarvan die Seagulls deel is. Die klub is geaffilieer by die SWD-rugbyunie en 'n volledige spelbeurtlys sal beskikbaar gemaak word wanneer die SWD-klubkampioenskappe begin.
Seagulls se bestuur is: Grant Riddles (voorsitter), Anna Pietersen (ondervoorsitter), Chané Pietersen (sekretaris), Kosie Riddles (tesourier), Lenie Kiewitz (hulpsekretaresse), Jaco Pedro (hulptesourier) en Veronica Wessels. Elvis Kiewitz en Moses Kleinhans is addisionele lede.
Afrigting word saam met Deutschen deur PJ Pietersen, Randall van der Berg en Heavy Pietersen behartig.
Sien 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Seagulls en Blues meet kragte
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'