SUID-KAAP NUUS - Klubrugby in die SWD bereik Saterdagmiddag die hoogtepunt van die seisoen met die aanbreek van die twee eindstryde in die SWD se Premier- en Presidentliga. Drie plaaslike spanne is betrokke.
Om 14:30 kry Outeniqua Plastics George kans om sy groot droom te verwesenlik om aanstaande jaar in die Premierliga te speel wanneer hy teen Heidelberg in die Presidentsliga-eindstryd te staan kom. Sy tweede span speel om 09:30 op Outeniquapark B, ook in 'n Presidentsliga-eindstryd teen Heidelberg B.
En dan die grote: Progress, wat die verdedigende kampioen in die Premierliga, Evergreens, om sy kroon uitdaag. Dié bulstryd skop om 16:15 af.
Outeniqua Plastics George het Prins Albert, wenners van die Karoostreek, verlede Saterdag in 'n klipharde halfeindstryd met 34-21 geklop en gewys dat hy nou slaggereed is om 'n trappie hoër te klim.
George spog met 'n hele paar staatmakers in sy span soos Nathan Scott (heelagter), Logan Vorster (agtsteman) en sy senterpaar, Chris Kurger en Juandre Fourie. Laasgenoemde is 'n gedugte kombinasie wat hul teenstanders vanjaar met hul plettervatte ontsenu het. As die Georgiete op al vier silinders vuur, behoort hulle Heidelberg te bêre.
Progress was vanjaar die keur onder die Premierliga-spanne en het deurgaans soos 'n kampioenspan gelyk en gespeel.
Evergreens, daarenteen, kan homself gelukkig ag dat hy die eindstryd gehaal het. Was Bridgton se skopwerk pale toe verlede Saterdag meer in die kol, was Evergreens se seisoen verby.
Pacaltsdorp se spogspan het een groot voordeel: hy is goed vertroud met die drukkokersituasie van 'n eindstryd. Drie Premierliga-titels die afgelope drie jaar is seker genoegsame bewys dat hy 'n span vir die groot oomblik is. Ook in Saru se Goue Beker-kompetisie het Evergreens skaflik gevaar en dis dié ervaring wat hom Saterdagmiddag skuins na vieruur goed te pas kan kom.
Dis twee goed gebalanseerde bulspanne wat mekaar gaan opdreun. Albei het puik individuele spelers, maar papiertiere het, helaas, geen tande nie.
In 'n eindstryd is dit die span wat sy kanse ten beste gebruik, puik verdedig en slim besluite op die regte tyd neem, wat die knoop gaan deurhak.
Koelkoppe is nou nodig; beslis nie ondeurdagte besluite nie. Outeniquapark gaan Saterdagmiddag dié plek in die Suid-Kaap wees om jouself tuis te maak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'