RIVERSDAL NUUS - Spelers en bestuurslede van Riversdal Blues-rugbyklub en hordes ondersteuners het Saterdagoggend na Kwanokuthula opgeruk om potte sop na Becca's Soup Kitchen te neem waar dit aan behoeftiges uitgedeel is.
Riversdal Spar het 'n klomp varsgebakte brode geskenk.
Rugbyspelers van die klub het die gesmeerde brood, netjies toegedraai in bruin papiersakkies, aan die mense uitgedeel. Mense, oud en jonk, het van vroegoggend af geduldig in 'n lang tou gewag.
Pieter Herling, voorsitter van Riversdal Blues, het aan die omstanders en ondersteuners gesê die skenking is deel van die klub se uitreikaksie na die gemeenskap.
"Ons ondersteuning kom van dié mense en dis net reg dat ons op ons beurt vir hulle iets teruggee. En watter beter manier as om te skenk aan mense met behoeftig en wat feitlik niks het nie."
Riversdal Blues se bestuurslede sou aanvanklik onder hulle kos bymekaar gemaak het om te gaan uitdeel, maar die nuus van dit wat hulle beplan het blitsig versprei en lede en ondersteuners aangespoor om ook hul deel by te dra.
Op die ou einde het die klub genoeg sop en brood geskenk om nagenoeg 300 mense te voed.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’