HESSEQUA RUGBY NUUS - 'n Volkome spanpoging waarin elke speler 101% moet gee.
Dis wat môre van Heidelberg verwag word in die deurslaggewende rugbykragmeting teen Evergreens. Dié halfeindstryd in die SWD Super A-liga word in Pacaltsdorp gespeel.
Om Evergreens op die 'Graveyard' te klop, is voorwaar 'n gewigtige taak, want menige span is al hier begrawe. Om uit dié doodsakker te ontsnap, sal Heibi vir 80 minute alles - en selfs nog meer - moet gee om die tuisspan se seisoen daar kort te knip.
In die ander halfeindstryd pak Crusaders (91 punte), die voorloper in dié liga, vir Groot-Brakrivier (87). Evergreens (90) en Heidelberg (89) lê kop aan kop.
Heibi sal weet wat 'n tuisveldvoordeel en die ondersteuning van jou tuisskare vir 'n span beteken. Dis welbekend in die SWD dat besoekende spanne nie oorloop van vreugde om na Heidelberg te reis om die fanatiese ondersteuners daar te trotseer nie. Dis 'n warm ontvangs in alle opsigte.
Maar nou is die speelveld en omstandig-hede omgekeer.
Albei spanne ken mekaar se sterk- en swakpunte so daar wag (dalk) nie groot verrassings nie. Beide spanne beskik oor sterk agttalle en agterlangs is daar bekwame spoed. Kortom, dis twee goed gebalanseerde spanne wat teen mekaar in die "kryt" gaan klim.
Om die uitklophou te plant, gaan meer as ysere dissipline, algehele toewyding en rotsvaste verdediging verg. Dis soos twee bulle in 'n taai stiergeveg wat besef iemand moet nou die spreekwoordelike haas uit 'n hoed trek om hier die oorhand te kry.
'n Oorwinning bespreek jou plek in die eindronde en die kans om die Super A-kroon te dra. Dis seker genoeg motivering vir 'n span om homself uit sy nate te laat speel.
As Heibi nie in Pacaltsdorp begrawe wil word nie, moet hy môre koelkop bly - en hier sal sy besielende kaptein, Lyndon Hartnick, voor lei - dissipline aan die dag lê, slim besluite op die veld neem en al hul kanse gebruik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’