Hessequa het in die o.21 en eerste spanwedstryde koning gekraai, terwyl die tweede span naelskraap verloor het. In die A-spanne wedstryd het Hessequa met 19-13 geseëvier nadat hulle rustyd met 5-3 voorgeloop het. Die wedstryd is deur harde voorspelerspel en rotsvaste verdediging agterlangs gekenmerk. Verskeie spelers aan beide kante het baie potensiaal getoon om die SWD hoogeplaastes te laat kopkrap met hul spankeuses vorentoe.
Vir die wenners het John Jacobs (Albertinia, haker), Jaco Michaels (Heidelberg, flank en kaptein) asook Louwtjie du Toit (Heidelberg, plaasvervanger heelagter) elk 'n drie gedruk. Gladwell Josephs (Riversdal, losskakel) wat gewoonlik 'n groot gevaar met sy dodelike skopskoene inhou, kon egter net met twee doelskoppe slaag. Vir Swellendam het Ruan Fortuin (Progress, linkervleuel) vir hul enigste drie agter die doellyn gaan kuier. Nolan Gertse (Swellendam, senter) het 'n strafskop aangeteken, terwyl Elvin Windvogel (Buffeljagsrivier, heelagter) met 'n straf- en doelskop geslaag het.
Die wedstryd tussen die B-spanne het deurgaans wipplank gery en Swellendam het naelskraap met 26-24 gewen, nadat Hessequa 16-15 met rustyd voorgeloop het. Vir Swellendam het Wilfred Jacobs (flank) twee drieë gedruk. Elton Jacobs (agsteman) het ook 'n drie aangeteken, terwyl Framton October (skrumskakel) twee strafskoppe oorgeklits en Marlin Phillips (losskakel), 'n straf- en doelskop bygevoeg het. Vir Hessequa het Efraim Claassen (agsteman) en Lindon Saayman (losskakel) elk 'n drie gedruk. Saayman was ook met vier strafskoppe en een doelskop suksesvol.
In die o.21-wedstryd het Hessequa met 13-12 gewen. Die rustydtelling was 12-10 in Swellendam se guns. Die name van die puntemakers was nie beskibaar nie. Ondersteuners van beide streekspanne kan uitsien na goeie rugby die komende naweek op Swellendam.

Die seëvierende Hessequa-span.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'