STILBAAI NUUS - Die ontluikende Suid-Afrikaanse rugbyspeler, Kai Pratt, wat verlede jaar aan die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal gematrikuleer het, is in 'n teenopkikkerondersoek betrek nadat 'n urinemonster wat hy op 10 April in Stellenbosch verskaf het, 'n ongunstige analitiese bevinding van 'n verbode middel opgelewer het.
Die Sharks, by wie hy gekontrakteer is, het Woensdag, 8 Julie bevestig dat die uitslae op 22 Junie bekend gemaak is. Pratt het intussen verkies om sy B-monster te laat ontleed, wat op 7 Julie plaasgevind het.
Die hoof-uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAID), Khalid Galant, het aan News24 bevestig dat die middel wat gevind is, 'n anaboliese steroïde is. Hy het egter beklemtoon dat die dissiplinêre proses nog in 'n vroeë stadium is en dat die saak nog nie afgehandel is nie.
In 'n verklaring het die Sharks gesê die proses is vertroulik, en dat geen verdere kommentaar op hierdie stadium gelewer sal word nie. "Die Sharks neem alle aangeleenthede rakende spelerswelstand, opvoeding en die nakoming van alle opkikkerregulasies uiters ernstig op. Ons bly daartoe verbind om ons spelers van die nodige leiding en ondersteuning te voorsien rakende hul verantwoordelikhede ingevolge die opkikkerregulasies, terwyl ons die prosesse en regte van alle betrokke partye respekteer," lui die verklaring.
Pratt word as een van Suid-Afrika se mees belowende jong rugbyspelers beskou. Hy het verlede jaar vir die SA o. 18-span uitgedraf en is in Maart vanjaar ingesluit in 'n groep van 49 spelers wat na 'n Bok-belyningskamp in Stellenbosch genooi is.
Die jong stut is tans besig om te herstel van 'n ernstige voetbesering wat hy op 27 April tydens 'n wedstryd teen Argentinië in die o. 20-Rugbykampioenskap opgedoen het. Sy rehabilitasie sal na verwagting ongeveer ses maande duur. Benewens sy besering staar Pratt nou ook die moontlikheid van 'n skorsing van tot vier jaar in die gesig indien hy skuldig bevind word aan 'n oortreding van die teenopkikkerregulasies.
Die voorval plaas die kollig op 'n probleem wat die Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap die afgelope paar jaar herhaaldelik getref het. Sedert 2019 het vier Springbokke - Aphiwe Dyantyi, Chiliboy Ralapelle, Elton Jantjies en Asenathi Ntlabakanye - positief vir verbode middels getoets.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’