RUGBY NUUS - Dis oorlog. Nie dié een in Oekraïne wat die waansinnige Russiese diktator Vladimir Poetin as 'n spesiale militêre operasie beskryf nie, maar wel dié een in George waar die SWD se toprugbyklubs sake Saterdagmiddag gaan uitspook om die klubkampioene te bepaal.
Dit gaan 'n bulstryd afgee en hoewel daar genadiglik nie bomme en mortiere op Outeniquapark gaan neerstort nie, is daar genoeg plofkrag onder die vier topspanne in die eindstryde van die Super A- en B-afdelings om die speeloppervlak op te skeur.
Hessequa se hoop is gevestig op Heidelberg om die Super A-kroon teen die huidige kampioen, Crusaders, af te neem. Heibi se laaste bekerglorie was in 2017 toe hy die Presidentsliga gewen en na die Premierliga opgeskuif is.
Nou's die tyd ryp om as kampioen gekroon te word, maar dít gaan 'n groot geveg afgee.
In hul twee kragmetings vroeër vanjaar het Crusaders tuis met 16 - 13 gewen en in Heidelberg het hulle met 22 - 22 gelykop gespeel. 'n Aktuaris met 'n gul persoonlikheid sal die wenkanse waarskynlik op 60/40 in Crusaders se guns voorspel.
Maar vorige vertonings en uitslae tel niks in 'n groot oomblik soos 'n eindstryd nie. En al spog jy met van die talentvolste klubspelers sal albei spanne dit deeglik besef: papiertiere het geen tande nie. Daar's net te veel op die spel.
Johan Erasmus, hoofafrigter van Heidelberg al die afgelope sewe jaar, het aan Suid-Kaap Forum gesê hulle gaan na Outeniquapark met net een doel: om te wen. "Dis ons ingesteldheid. Ons gaan speel om te wen. Verloor is nie in ons woordeskat nie.
Lenesteoy Tarentaal (regs op grond) en sy spanmaat Jonathan Madison (middel) stuit nog 'n belowende beweging van Seagulls. Dit gaan sulke rotsvaste verdediging van Albertinia verg om Crusaders van hul doellyn af weg te hou."Die eerste ding is dat ons Hessequa en Heidelberg met trots moet verteenwoordig. Tweedens moet die spelers in die uitdagende omstandighede van 'n eindstryd vir mekaar speel en dit binne daardie konteks geniet. En, derdens, moet hulle die beste maak van die kanse wat na hulle kant toe kom."
Erasmus sê dit sal verg dat elke speler die volle 80 minute alles moet gee. "Daar sal nie kans wees vir lyf wegsteek nie. Ons het die video van Crusaders se laaste wedstryd bestudeer en ons planne goed agtermekaar. Dit kan ek wel verklap: ons voer iets in die mou."
Julian Buis, voorsitter van Heidelberg, se afskeidswoorde aan die span was: "Ons dorp is passievol en trots op die wit-en-swart rugbytrui. Jonathan Matiso (buitesenter) se oog vir 'n gaping wys hier duidelik in die halfeindstryd teen Seagulls. Hy sal weer beheer moet neem in die middelveld.
As voorsitter het ek vir die spelers een visie: ons moet suksesvol wees dié jaar sodat die skoolkinders en die jongmense op strate weer hoop kan kry. Dit sal 'n sterk boodskap uitstuur dat hulle in die lewe ook suksesvol kan wees. Hierdie is 'n gemeenskapspoging. Dankie ook aan ons getroue ondersteuners en borge."
Albertinia Rangers se skerp-skutter Keanon Tarentaal sal 'n sleutelspeler wees in Saterdag se Super A-eindstryd teen Riversdal Blues.
Die klein generaal agter die agttal, Calvyn Kortze, se suiwer diens aan sy agterlyn kan Albertinia help om op die voorvoet te kom. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'