Update
HEIDELBERG RUGBY NUUS - In hul eerste tweede ronde wegwedstryd van die SWDR Premierliga het Heidelberg-rugbyklub gewys dat hul sege van 43-14 oor Maori’s in die eerste ronde geen gelukskoot was nie.
Hulle verslind die tuisspan met 61-10 nadat hulle rustyd gerieflik met 36-0 voor was. Nie eens die gure weer wat tydens die wedstryd geheers het, of dat die wedstryd 20 minute laat begin het, kon die begeesterde Heibi-span stuit nie.
Met dié positiewe ingesteldheid om hul nagenoeg 200 lojale saamreisende ondersteuners se opoffering die moeite werd te maak, het Heibi met aanvallende rugby agt drieë aangeteken. Die eerste daarvan is reeds so vroeg soos in die derde minuut deur Simon du Toit (slot) gedruk, die eerste van sy vier in dié wedstryd.
Van daar af was dit heeltyd speeltyd met Heibi wat met mening ingeklim het om beheer af te dwing en goeie hardlooprugby op te dis. Die ander driedrukkers is Junico Pieters (regtervleuel), Shirgené Swartbooi (senter), Marcelino Meyer (flank) en Pieter Franklin (stut). Corbin Swartbooi (heelagter) het ses van die drieë verdoel, asook met drie strafskoppe geslaag. Maori’s het twee drieë aangeteken.
Die besoekers het albei die voorwedstryde gewen. In die eerste wedstryd tussen die derde spanne het hulle met 24-0 gewen nadat hulle rustyd met 12-0 voor was. Dimitri Stevens (losskakel) het twee drieë gedruk, met Carlin Wewers (agsteman) en Carlet September (stut) wat elk een drie gaan druk het. Carlo Williams (heelagter) het met twee doelskoppe geslaag.
Die tweede span het ’n naelskraapse 12-7 oorwinning behaal, nadat hulle rustyd met 7-0 agter was. Heibi se puntemakers is Roger Williams (agsteman) en Branville Human (flank) wat elk een drie gedruk het. Alvin Swanepoel (losskakel) het een drie verdoel.
Lees 'n vorige artikel hier: Heibi wys hul staal
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'