RIVERSDAL NUUS - Die Bulle van Oakdale het gistermiddag (Saterdag 18 Mei) op hul tuisveld die Kwaggas van Hoërskool Outeniqua in George behoorlik gegaffel deur 15 van die 20 rugbywedstryde te wen.
In die kragmeting tussen die o. 19A-spanne het die Bulle tien drieë ingeryg om die besoekers met 60 - 8 te klop. Rustyd het hulle reeds met 26 - 3 voorgeloop.
Vir die wenspan het Lee-Win Pretorius drie drieë gedruk en Duraan Janse van Rensburg en Waylon Kortjé elk twee.
Kurt Coetzee het met vyf doelskoppe tien punte tot die totaal bygedra.
Vir Oakdale is die ander groot wentellings aangeteken deur die o. 14E's (50 - 33), die o. 16A's (52 - 0), die o. 19B's (43 - 26), die o. 19D's (61 - 7), o. 19E's (48 - 5), o. 19F's (52 - 3), en die o. 14D's (56 - 0).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’