RIVERSDAL NUUS - Die Oakdale-Old Mutual Insure Agri-Rugbyweek word vir die 39ste agtereenvolgende jaar vanaf 28 Maart tot 2 April by die Hoër Landbouskool Oakdale aangebied.
Vanjaar is 32 o.19 A-spanne by hierdie toernooi betrokke. Afgesien van die 704 spelers en 150 beamptes, besoek honderde ouers en ondersteuners van die onderskeie spanne die Riversdal- en Stilbaai-omgewing.
Besighede kan hulle verseker regmaak vir 'n besige naweek.
Die toernooi word Woensdagaand om 18:30 amptelik geopen wanneer die 32 spanne tydens die openingseremonie bekendgestel word.
Donderdagoggend om 08:45 begin die wedstryde op die De Eike- en De Tuine-veld. Op Donderdag en Saterdag word aandwedstryde tot 20:45 onder spreiligte op die De Eikeveld gespeel.
Dit is tydens hierdie wedstryde waar daar 'n heerlike atmosfeer heers en die paviljoen stampvol gepak is. Die toernooi beloof om 'n fees van aanskoulike hoërskoolrugby op te lewer.
Die ondersteuning van borge is baie belangrik vir die aanbieding. Hierdie toernooi word absoluut met Old Mutual Insure Agri, die hoofborg, geassosieer. Mnr. Philip du Preez, bestuurder van landbou, se betrokkenheid voeg verseker waarde toe en beklemtoon opnuut Old Mutual Insure Agri se betrokkenheid by die skool.
Die betrokkenheid van die ander borge, naamlik Riversdal SuperSpar, OK Grocer Riversdal, Mountain Ridge Spur en Triomf Fertilizer word werklik hoog op prys gestel.
Spanne en ondersteuners word versoek om ons borge te ondersteun.
Oakdale is groot dank verskuldig aan Hoërskool Langenhoven wat jaarliks betrokke is by die toernooi by wyse van die beskikbaarstelling van hul koshuisfasiliteite vir huisvesting van agt spanne.
Oakdale wens alle besoekende spanne 'n genotvolle kuier en toernooi op Oakdale en op Riversdal toe. Die gemeenskap van Riversdal en omgewing word uitgenooi om aanskoulike skolerugby te kom geniet.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'