HESSEQUA NUUS - 'n Sestienjarige is in Texas in die VSA in hegtenis geneem vir sy aandeel in die motorongeluk waarin die oud-Springbok en Blou Bul-rugbyspeler, Pedrie Wannenburg verlede naweek dood is.
Volgens 'n berig in die New York Times word die verdagte, Ali Alabadi aangekla van moord en aanranding van 'n verswarende aard.
André Latsky, oudskoolhoof van die Hoër Landbouskool Oakdale het in 'n telefoniese onderhoud aan Suid-Kaap Forum gesê die skoknuus van Wannenburg (41) se tragiese dood ná 'n grusame botsing in Texas, het die hele Oakdale-gemeenskap in rou.
"Dis sleg, dis rerig 'n groot slag vir ons in die besonder, maar ook vir rugbyliefhebbers landwyd."
Latsky was skoolhoof toe Wannenburg van 1995 tot 1999 by Oakdale was.
Hy het Wannenburg as 'n ongelooflike rugbyspeler én mens beskryf en gesê hy was een van die lojaalste mense wat hy al ontmoet het.
"Hy het 'n hart van goud gehad en was altyd bereid om ander mense te help. Hy het letterlik vooruitgeboer by Oakdale en die skool se waardes ten volle uitgeleef.
Samehorigheid, trots en ondersteuning is van die waardes wat hy nagestreef het.
"Maar," het Latsky bygevoeg,"dis sy toegewydheid en entoesiasme met dit waarmee hy besig was, wat uitgestaan het.
Pedrie was ingestel op groot doelwitte en prestasies en dis waarom hy as rugbyspeler uitgeblink het.
"Pedrie het altyd vir Oakdale se A-spanne gespeel. Sy enorme ontluikende talent is al op graad 8-vlak raakgesien en ons het geweet hy is bestem vir groot glorie op die rugbyveld.
"Hy het vir twee jaar agtereenvolgens vir die SA skolespan uitgedraf wat seker 'n duidelike maatstaf was van Oakdale se rugbykrag in daardie stadium."
Ná skitterende vertonings vir die SWD skolespan by die Cravenweek in 1999 het hy 'n kontrak by die Blou Bulle losgeslaan.
Hy het op 20-jarige ouderdom sy eerste wedstryd vir die Blou Bulle gespeel en in 2002 maak hy sy debuut in 'n Springboktrui in die toets teen Frankryk op die Bokke se jaareindtoer na Europa.
Latsky sê Oakdale kon bars van trots toe hul oudleerder die Groen en Goud oor sy kop trek. "Die hele skoolgemeenskap, ouers en oud-, sowel as huidige leerders het sy wedstryde vir die Bokke getrou op televisie gevolg.
Dit het die gemeenskap saamgesnoer. Ons was trots daarop om te sê Pedrie was een van ons.
"Hy het natuurlik 'n goeie ondersteuningsbasis gehad in sy ouers, broer en suster wat na sy skoolwedstryde kom kyk het. Hulle is 'n baie hegte gesin."
Latsky sê wat van Wannenburg opgeval het, is sy nederigheid. "Sy rugbyroem het nooit na sy kop toe gegaan nie. Sy voete was plat op die aarde.
Hy was 'n mens-mens en ek sal altyd onthou hoe hy by my op kantoor kom sit en gesels het oor die vorige naweek se rugby. Ook as hy van oorsee af teruggekeer het na Suid-Afrika, het hy 'n draai by Oakdale kom maak om te groet en Oakdale te kom ondersteun.
"Oakdale het meer as 'n begaafde rugbyspeler verloor. Een van ons seuns is vir altyd weg. Dis seer. Maar sy nagedagtenis sal altyd aan Oakdale gekoppel word. Ek glo sy naam sal bly voortleef in die skoolgange.
"Hy is 'n navolgenswaardige voorbeeld vir huidige, sowel as jong spelers wat by die skool in sy voetspore sal volg."
Die Springbok-losvoorspeler Pedrie Wannenburg in aksie teen die All Blacks in 2007 tydens 'n Drienasies-kragmeting in Christchurch. Foto: Lee Warren/Gallo Images/Getty Images
André Latsky was skoolhoof by Oakdale toe Pedrie Wannenburg daar skoolgegaan het.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'